Drie Kruiners gaan vir die Red Squad uitdraf
Onder 11-spelers droom groot.
Drie van Laerskool Helderkruin se o.11-rugbyspelers is gekies om vir die Goue Leeus Rugby Unie se Rooispan, beter bekend as die Red Squad, uit te draf.
Matthew Gaaname, Niel Barnard en Christiaan Pauwer is vir die span gekies na afloop van die klinieke wat op 16 Augustus gehou is.
Matthew wat regtervleuel speel droom daarvan om eendag soos sy held Bryan Habana die groen en goud oor sy kop te trek. Hy hou van hard speel en speel ook graag rugby met sy ouer broer na skool.
Niel is fanaties oor sport en oefen, en is ewe gemaklik as losskakel en as heelagter. Op die veld is Niel ‘n harde werker wat die kameraderie van ‘n spansport soos rugby geniet. Hy speel ook rugby by Khosa-rugbyklub.
Christiaan is ewe lief vir krieket en rugby en die sterk jong man speel agsteman. Hy baseer sy styl op Francois Hougaard se onselfsugtige manier van speel en is in sy element om die sport saam met sy vriende te beoefen.
‘n Blink toekoms wink vir dié drie Kruiners.



