Reeds die vorige naweek met die besoek van afgevaardiges van die Departement van Onderwys, het die elektrisiteit by Hoërskool Roodepoort begin lol.
Maandagoggend (4 Augustus) moes Adjunkhoof Piet Crous noodgedwonge City Power skakel toe rekenaars en ligte nie wou werk nie, truprojektors se gloeilampies blaas en muurproppe uitbrand. Vakke soos Rekenaarwetenskap kon glad nie aangebied word nie en volgens Crous het die skool vir alle praktiese doeleindes tot stilstand gekom.
Teen Maandagmiddag het ene Solly van City Power wel uitgekom en laat weet dat daar niks met die krag by die skool verkeerd is nie. Crous het weer City Power geskakel en weer is daar aan hom gesê dat daar niks met die krag skort nie.
Dinsdagoggend het die skool se faktotum heel per toeval verby die skool se substasie net buite die gronde gery toe hy opmerk dat die deure oopstaan. Aangesien slegs City Power toegang tot die substasies het, het hy onraad vermoed en by nadere ondersoek gevind dat van die kragkabels afgeknip was.
Weer het Crous City Power geskakel en dié keer is aan hom gesê dat fotobewyse daarvan by die Burgersentrum ingelewer moet word.
‘n Ontstoke Crous het hom toe tot raadslid Willie van der Schyf gewend wat die probleem opgelos het. Hiervoor sê Crous is die skool baie dankbaar. Teen ongeveer 2.30nm het City Power uiteindelik die substasie herstel maar dit nadat twee skooldae byna onbenut verby gegaan het.
“Dit lyk vir my of swak diens en diefstal die voorland vir ons almal in die nuwe Suid-Afrika is. Daar moet drasties iets daaraan gedoen word om te red wat nog te redde is, ” sê Crous.



