Editor's choiceLocal newsNews

Weghol veldbrand: Brandweer nie beskikbaar

Blykbaar is daar net een brandweerwa vir die hele Roodepoort-area.

‘n Weghol veldbrand het inwoners paniekbevange gehad aangesien die brandweer nie beskikbaar was nie, sê Maritza Classen.

Donderdagaand na sewe uur het ‘n veldbrand naby Wilde Amandellaan in Roodekrans uitgebreek . Die brand het oorkant Laerskool Roodekrans ontstaan, langs die Henruv Villas-kompleks.

“Een van die inwoners het die brandweer geskakel toe die vlamme baie erg begin raak het,” vertel Classen.

“Die vuur het al nader aan die huise beweeg en groot bome het reeds begin brand.

“Die brandweerdiens het gesê dat hulle net een brandweerwa het en dat dit reeds na Witpoortjie uitgestuur is.”

Gelukkig, sê Classen, werk een van die inwoners by Watch Tower, en na kommunikasie het hulle ‘n brandweerwa uitgestuur. Inwoners het intussen self die brand probeer blus en hulle eiendomme probeer beskerm.

“Daar is al voorheen gevra dat die groot bome afgesny moet word maar niks het daarvan gekom nie,” sê ‘n teleurgestelde Classen.

“Hoe is dit moontlik dat net een brandweerwa die hele Roodepoort moet bedien?”

Classen sê namens die buurt se inwoners baie dankie aan Watch Tower.

Johannesburg se nooddienste-woordvoerders Robert Mulaudzi en Nana Radebe was nie beskikbaar om kommentaar te lewer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button