Fratsongeluk eis byna drie lewens toe boom val
"Munisipaliteit moet verantwoordelik gehou word."
Twee Roodepoort-inwoners in ‘n motor en ‘n ervare drywer in ‘n trok het in ‘n fratsongeluk byna met hulle lewens geboet toe ‘n reuse boom op hul voertuie omgeval het.
Die Roodepoortse sakeman wat die motor bestuur het, Shane de Lange vertel dat hy en sy passasier Stefan Grobler omstreeks 11.30vm in Aerodromelaan naby Nasrec in die regterbaan gery het toe die ongeluk gebeur het.
“Uit die hoek van my oog het ek gesien hoe die boom begin val. Ek kon óf voet in die hoek sit en hoop die boom val ons mis óf ek kon rem trap. Ek besluit toe om eerder met al my krag te rem.”
De Lange verduidelik verder dat terwyl ‘n stuk van die boom op die motor se enjinkap val, het die drywer van ‘n groot trok wat links by De Lange verbygery het, sy eie lewe in gevaar gestel deur die ander deel van die boom van De Lange se motor af weg te stoot en so die meeste van die impak geabsorbeer het.
“Ek het nog so gery toe begin die boom net val,” het Andries Mogomotsi, die trokdrywer bevestig.
Die voorval het in stormsterk wind plaasgevind, wat Mogomotsi as ‘n ‘kwaai een’ beskryf het. Mogomotsi sê hy bestuur al sedert 1974 en dis die eerste keer dat so iets met hom gebeur.
Mogomotsi het sy linkerhand en regterarm in die ongeluk beseer. De Lange is hospitaal toe geneem waar ‘n spesialis bevestig het dat hy drie beentjies in sy voet gebreek het. Grobler het ook ligte beserings opgedoen.
“My motor is my brood en botter. Die skade is van so ‘n aard dat dit afgeskryf gaan word,” het De Lange bygevoeg.
Hy sê die munisipaliteit moet verantwoordelik gehou word omdat hulle nie instandhouding doen nie.
Hierdie is nie die eerste voorval van sy soort nie. In Augustus verlede jaar is ‘n 46-jarige vrouebestuurder dood nadat ‘n bloekomboom in Wilgerood/ Robert Broom op haar kar geval het. Vingers is ook na die munisipaliteit gewys omdat daar net voor die ongeluk ‘n veldbrand was wat die bome sodanig beskadig het dat dit ‘n gevaar vir motoriste ingehou het. Die munisipaliteit het eers na die tragedie die gebrande bome verwyder.





I agree, the municipality should be held accountable for not keeping up maintenance. Do we first have to die or be seriously injured before they do something? Perhaps when paying for loss of income and injury, someone will wake up in the municipality office and action will be taken. If I was Mr De Lange I would definitely sue them….
Ek stem saam. Die munisipaliteit (mislike paliteit) moet verantwoording doen en kla! Shane ons dank die Here julle het nie TE seer gekry nie! Sterkte hoor jy is geopereer vandag? Word gou gesond.