Agt dogters en ‘n afrigter van Laerskool Roodekrans het hulself in twee onderskeie Gauteng-netbalspanne inpresteer.
Vier van die dogters is in die o.12 Gauteng-span ingesluit. Hulle is Amor Oosthuizen (hoofdoel), Sazkia Hall (aanvallende vleuel), Dané Roetz (hulpdoel-verdediger) en Nicole Bergsma (verdediger) terwyl die ander vier, Tammy Carney (verdediger), Chelle Abraham (hoofdoel), Lizandri Maritz (verdedigende vleuel) en Bronwyn Kitching (hulpdoel-verdediger) ‘n o.13 Gauteng-trui oor hul kop sal trek.
‘n Onderwyser en netbalafrigter van die skool, Hanliëtte Oosthuizen sal Gauteng se o.15-netbalspan afrig.
Die dogters vertrek binnekort Margate toe in KwaZulu-Natal waar hulle van 29 Junie tot 5 Julie tydens die SA-kampioenskappe in aksie sal wees.
“Dis waarlik ‘n uitmuntende prestasie aangesien daar oor die 2 000 laerskole in Gauteng is en slegs 30 spelers gekies is,” sê Theolene Pienaar van Laerskool Roodekrans.
Saam met dié prestasie het Roodekrans se netballigaspanne ‘n besondere en suksesvolle netbalseisoen agter die rug.
Van hulle o.10A- en B- tot by die o.13A- en B-spanne het almal aan die Superliga (Jomo League) deelgeneem. Vyf distrikte was daarby betrokke en uit die agt ligaspanne het Roodies vyf eerste plekke, twee tweede plekke en een vierde plek behaal.
“Baie geluk aan al die netbalspelers sowel as die agt dogters wat in die onderskeie Gauteng-spanne opgeneem is. Ons is baie trots op julle,” voeg Pienaar by.



