Wie’t gesê dat teleurstelling na ‘n nederlaag en vreugde na ‘n oorwinning nie in mini-netbal bestaan nie?
Die teendeel was duidelik toe Laerskool Roodekrans (Roodies) onlangs ‘n mini-netbaltoernooi aangebied het waarby sewe skole se jong dogters betrokke was.
Spelers van Laerskool Roodekrans, Helderkruin, Maragon, Florida, Constantia Kloof, Dr Havinga en Bryanston het deelgeneem.
Hoewel die klem op genot en pret eerder as kompeterende aksie was, was dit vir talle van hierdie dogters ‘n saak van groot erns. Die passie was daar, die inklimspel ook, om nie eers te praat van die trane of handdoek-ingooi-scenario nie!
Aangesien die uitslae volgens Gauteng Netbal nie gepubliseer mag word nie, word daar tydens sulke geleenthede slegs op die kinders se ontwikkeling in die sport gefokus – nie op wie wen nie.
“Deelnemers het goeie sportmangees en passie vir die spel gewys. Wat verbasend is, is dat dit reeds op so ‘n jong ouderdom sigbaar is,” sê Theolene Pienaar van Roodies.
“Natuurlik moes die Roodekrans-leiers asook die -eerstenetbalspan hier en daar ingryp en help waar nodig maar die toernooi was oor die algemeen baie goed georganiseer, met goeie vaardighede wat boonop ten toon gestel is.
“Dit is beslis toernooie soos dié wat netbalsterre vir die toekoms kweek.”



