School sportSport

Monnas val Florries binne

Wit Bulle wen al nege kragmetings teen Wes-Rand-teenstanders.

Dit was asof Monnas soos die Myrmidons en Griekse weermag destyds Troje (Florries) binnegeval het toe die twee skole die afgelope naweek op die rugbyveld kragte gemeet het.

Om dit sagkens te stel: dit het nie goed gegaan met Florries nie. In hierdie amptelike Goue Leeus Rugby Unie-kragmeting (GLRU) vir makroskole het die Wit Bulle sake oorheers deur al nege wedstryde (insluitend B-spanne) te wen.

Die finale spyker in Florries se doodskis was toe die eerstespan heel laaste met 19-32 vasgeval het.

Wat laasgenoemde wedstryd betref kan Florries vir hulself hande klap aangesien hulle meer punte teen Monnas kon aanteken as wat Affies van Pretoria kon regkry. Ja, Monnas het vanjaar reeds vir Affies met 36-10 gebêre en selfs 10-elk teen Grey College gelykop gespeel.

Monnas het in die eerste helfte sake oorheers en gewys hy is die gunsteling. Teen halftyd was die Wit Bulle 22-7 voor. Florida het in die tweede helfte ‘n bietjie teruggeveg en tegnies die helfte met 12-10 gewen – maar dit is ongelukkig nie hoe dinge werk nie.

Monnas het dus genoeg skade in die eerste helfte aangerig om Florries te verhoed om enigsins naby aan ‘n oorwinning te kom. Boonop het hul haastige vleuel Armand Grobler uitgeblink en drie keer gaan druk. Hul haker Wian Roodt het gespeel soos ‘n Oelie Boelie van ouds, om nie te praat van die reuse slot, Ryno Herbst wat as die speler van die wedstryd aangewys is nie.

Florries pak eerskomende Saterdag vir Marais Viljoen van Alberton in ‘n FNB Classic Clash terwyl Monnas vir Glenwood in Krugersdorp verwelkom.

Volledige uitslae (Slegs A-spanne):

• Monnas o.14A 57-3 Florries

• Monnas o.15A 82-0 Florries

• Monnas o.16A 38-0 Florries

• Monnas 3de span 64-0 Florries

• Monnas 2de span 12-0 Florries

• Monnas 1ste span 32-19 Florries

Armandt Grobler van Monnas snol hier langs die kantlyn af. Die vleuel het Saterdag drie drieë gedruk.
Armandt Grobler van Monnas snol hier langs die kantlyn af. Die vleuel het Saterdag drie drieë gedruk.

Related Articles

Back to top button