Spoedvrate loop hul rieme styf
Blits op ysterperd loop hom vas in padblokade.
Ten spyte van ernstige waarskuwings van die Johannesburgse metropolisie dat padgebruikers hulle oor die paasnaweek moet gedra, was daar steeds die wat lukraak die wet oortree het.
Op Goeie Vrydag is ‘n 29-jarige man aangekeer en gearresteer nadat hy van die metropolisie gevlug het, maar ‘n paar kilometer verder verras is deur ‘n padblokkade wat daar opgestel is.
Die voorval het omstreeks 12.40nm plaasgevind toe die man geweier het om te stop vir metropolisielede waar hy teen 217km/h op sy motorfiets in ‘n 120km/h sone gejaag het. Woordvoerder Wayne Minnaar het gesê dat die oortreder se motorfiets ook geen nommerplaat gehad nie.
Die voorval het op die N1-suid naby Maraisburg plaasgevind — Die strook pad het deesdae berug geword vir die flagrante spoedoortredings wat daar gepleeg word.
Die man gaan egter nie alleen in die Roodepoortse Magistraatshof teregstaan op die spoedklagte nie. Hy word ook aangekla vir roekelose bestuur en versuim om vir ‘n offisier in uniform te stop.
‘n Tweede motorfietsryer (21) is op dieselfde dag op dieselfde stuk pad gevang waar hy 206km/h in ‘n 120 sone gery het. Die man se motorfiets was ook sonder nommerplaat en hy het vroulike passasier vervoer.



