Wangedrag by Burger weer onder die loep
Ma beweer daar is rassespanning by Die Burger.
Volgens ‘n ouer van Hoërskool Die Burger kan die skool se gereelde probleme met geweld en swak dissipline aan rassespanning toegeskryf word.
Die ma, wat nie geïdentifiseer kan word nie om haar minderjarige kind te beskerm, het die Record vertel dat haar 14-jarige dogter en ‘n ander dogter van dieselfde ouderdom op 9 April gedurende skoolure by ‘n insident betrokke was waartydens klappe glo uitgedeel is.
‘n Derde dogter wat volgens die ma bekend is as ‘n moeilikheidmaker het toe betrokke geraak en haar dogter gewaarsku dat hulle haar na skool gaan bykom.
Toe die ouer haar dogter omstreeks 2nm by die skool gaan haal het, het ‘n groep van ongeveer 50 kinders haar motor omring. Daar was ook twee jonger kinders in haar motor.
Die ontstoke groep het haar motor geslaan en gewieg terwyl die sekuriteitspersoneel en leerlingleiers glo slegs gestaan en toekyk het. Sommige leerlinge het glo video’s daarvan met hulle selfone geneem maar niks gedoen om die petalje stop te sit nie.
Wat die ma ontstel is die skool se reaksie toe sy die insident aangemeld het. Volgens haar het die skool slegs laat weet dat dit nie op hulle eiendom gebeur het nie en die saak hulle dus nie raak nie.
Die ma sê egter dat dit wel op die amptelike parkeerarea van die skool plaasgevind het.
In ‘n tweede gesprek met die hoof het hy glo aan haar gesê dat sy enigste voorstel is dat sy ‘n saak by die polisie open aangesien “dit die enigste taal is wat die kinders verstaan”.
Sy sê ook dat toe sy hom vra of haar dogter in die toekoms veilig sal wees by die skool het hy gesê dat hy “niks kan waarborg nie”.
Die ma beweer dat die skool se leerlinge volgens ras verdeeld is en dat “blanke leerlinge” deur ‘n bepaalde groep geviktimiseer word.
Die skoolhoof kon nie vir kommentaar bereik word nie.




why was this article not published in english? is this a deliberate attempt to cover up?? didnt know the record was protecting the blankes, but i guess we can expect this from you….