Nelspruit oorweldig Florries op hul tuisveld
Neusie verby vir eersterugbyspan in Tuks-reeks na 29-3 nederlaag.
Dit is neusie verby vir Florries se eersterugbyspan in vanjaar se Tuks-skolereeks na ‘n kwaai nederlaag teen ‘n goed ge-oliede Nelspruit-span op Menseregtedag 21 Maart.
Die span se hoop om aanspraak op die titel te maak is summier verydel toe Florries op hulle eie tuisveld met 29-3 deur Nelspruit kafgedraf is.
Die besoekers se intensies was vroeg in die kragmeting duidelik toe hulle binne vyf minute hul eerste drie gaan druk het.
Nog twee drieë hierna het die wegspan in ‘n stadium gemaklik met 19-0 laat voorloop. Florries het wel puntjies op die bord gekry danksy ‘n suksesvolle strafskop maar dit was al.
Florries het selde met ‘n aanvalsplan vorendag gekom en moes meeste van die tyd keer asof dit uit die mode gaan. Hul sal moet koppe bymekaarsit om die gevaarmanne agterlangs geleenthede te gee.
Toe daar wel ‘n geleentheid in die doodsnikke van die wedstryd was, het dit ook nie gehelp dat die Florries-heelagter die bal met ‘n oop doellyn aanslaan nie.
Dit het soms so erg gegaan dat die skare begin skreeu het, “Speel bietjie rugby man!”
Aangesien Florries nie onder die top agt skole kan eindig nie, speel hul nou net vir trots en ‘n plek tussen nege en 16.
Dit raak ook nie makliker nie. Florries pak môre, Woensdag 26 Maart vir Garsfontein – wat in die eerste rondte met Nelspruit afgereken het.
Uitslae van alle sportsoorte teen Nelspruit (Florries links en Nelspruit regs):
RUGBY:
• o.14A 8-8
• o.14B 5-36
• o.15A 31-16
• o.15B 14-15
• o.16A 7-26
• o.16B 5-76
• 3de span 7-66
• 2de span 15-22
• 1ste span 3-29
SEUNSHOKKIE:
• o.14A 0-9
• o.16A 0-7
• 1ste span 1-2
DOGTERSHOKKIE:
• o.14A 0-7
• o.14B 3-1
• o.15A 0-3
• o.16A 0-3
• 3de span 3-2
• 2de span 1-2
• 1ste span 1-2
NETBAL:
• o.14A 10-21
• o.14B 6-16
• o.15A 8-13
• o.15B 3-14
• o.16A 4-26
• o.16B 7-29
• o.17A 15-15
• o.17B 20-11
• o.18B 7-15
• 1ste span 35-17






