Roodie-onnie blink uit op atletiekbaan
Graad R tot 7-onnie palm twee goue medaljes in by Gauteng-skouspel.
Gedurende skoolure as onderwyser by Laerskool Roodekrans dra Leana van Niekerk dalk ‘n bolla en loop met ‘n liniaal in die hand rond maar na ure is dit ‘n ander storie.
Dan trek sy haar hakskoene uit en haar atletiekstewels aan, en hol laat die biesies bewe. Leana het onlangs opskrifte gehaal toe sy twee gouemedaljes vir die Universiteit van Johannesburg (UJ) tydens die Gauteng Atletiek kampioenskappe verower het.
Haar blitsige tye in die kortafstanditems was 12,23 sekondes in die 100m en 25.25 sekondes in die 200m. Nou eers ‘n personeellid by die skool vir een jaar sê Leana, “Ek kon nie vir beter gevra het nie”.
“Dis wonderlik om ‘n Roodie-onnie te wees. Ons is soos ‘n groot gesin hier en ondersteun mekaar in alles.”
Behalwe dat sy onderrig gee is Leana ook betrokke by afrigting in atletiek, netbal en hokkie. By die atletiek rig sy die naellope af, in netbal die o.7 mini-netbaldogtersspan en in hokkie rig sy die senior seunsspan af.
Leana kom oorspronklik van Thabazimbi af waar sy by die klein plattelandse Laerskool Koedoeskop en Hoërskool Frikkie Meyer op skool was.
Gevra wat sy in haar atletiek wil bereik het Leana gesê, “Ek sal baie graag oorsee wil gaan hardloop,” en spesifiek haar staal wys in die binnehuise byeenkomste.
“Ongelukkig beskik Suid-Afrika nie oor ‘n binneshuise baan nie. ‘n Ander uitdaging is dat ek vir myself moet betaal as ek aan binneshuise byeenkomste wil deelneem– die kanse dat Atletiek Suid-Afrika vir hierdie atlete sal betaal is niks, of baie min.
“Dit is ‘n groot uitdaging vir my om genoeg geld bymekaar te kry om dit te kan doen.”
Leana wil ook baie graag nog kwalifiseer om aan ‘n Wêreld Binneshuise Kampioenskap deel te neem.
“Ek glo ek sal baie goed vaar. As ek my tye vergelyk met die atlete wat onlangs in Pole in aksie was staan ek ‘n kans.”



