Parow-album giftiger as ooit
Nag van die lang pette is die gevaarlikste CD in my kar hierdie jaar.

Parowland — Niemand kan eerlik sê hulle het elke liewe aspek van die vollengte dubbelalbum Nag van die lang pette verwag nie. Jack Parow het teen 8 Januarie hierdie jaar dit vir sy ondersteuners moontlik gemaak om solank sy nuutste album, Nag van die lang pette, vooraf op iTunes te bestel. Dit is eers op Vrydag 14 Februarie amptelik vrygestel.
Die Record het dit ‘n naweek later bekom.
Die album bestaan uit 18 elektriese en 14 akoestiese tunes wat ‘n wye verskeidenheid temas, klanke en bedoelinge bevat. Elkeen toon die berugte Parow-neiging om dinge gevaaarlik eerlik aan te pak. Dit is bewys ook met sy titelsnit, Bloubek, se musiekvideo waarin hy ‘n haas uitslaan, en die kopstuk van die kostuum afval om ‘n Steve Hofmeyr-ewebeeld na vore te bring. Hy verwys ook na Ingrid Jonker se selfmoord in die lirieke. Buiten die kletsrym neem Parow style van ander populêre Suid-Afrikaanse musiek oor en met die klompie kunstenaars wat bydra skep hy vele klanke vir ‘n groter gehoor.
“Mina Parow, mina lahla”
Met ‘n hele lys kunstenaars wat elk tot ‘n snit op die album bygedra het, het Parow verseker dat hy nie nét Afrikaans- en sommige Engelssprekende ondersteuners bereik en werf nie, maar op nasionale vlak almal betrek. Met bydrae en insette van Dirty Nasty, Nonku, Janie Bay, PHFat, Klipwerf Orkes, Naaldekoker, RufiYOLO, Francois van Coke en Rattex op die elektriese CD van die album het hy gesorg dat elke tipe luisteraar iets daaruit put. Daarby sluit Bloubek ook fanagalo-lirieke in. Deur opnuut met PHFat en vir die eerste keer met Nonku, Dirty Nasty en Rattex saam te werk, sorg Parow dat meer Suid-Afrikaners hom ernstig kan opneem. Deur meer style en tale te inkorporeer maak Parow die veld gelyk om te kompeteer met ander Suid-Afrikaanse kletsrymkunstenaars. Maar wees gewaarsku – dit is gevaarlik eksplisiet. Al waarna ek verlang is die hard-en-eerlike diglirieke.
“Ek het sommer klaar miltsteek”
Parow het gesorg dat almal “koes, want ons kom nou” deur Radio Raps skits tussen die elektriese en die akoestiese snitte in te sluit. Parow het ‘n reeds sterk zef-teenwoordigheid versterk. Radio Raps, wat veral deur tieners en studente op YouTube gevolg word, sorg dat zef nie verlore gaan nie. Radio Raps se bydrae is meestal eksplisiet, wat kenmerkend is van dié Oos-Rander-komediant. Jonathan van die Oos-Rand, ‘omroeper’ van Radio Raps beklemtoon die sogenaamde ‘giftigheid’ van die elektriese, spring-rond CD. “Ek het sommer klaar miltsteek,” verklaar hy op een van die latere Radio Raps-snitte.
“Klank sonder elektriese ondersteuning”
Vir die eerste keer kan aanhangers na die akoestiese Jack Parow luister, wat vir 14 snitte op ‘n tweede CD sommige van sy liedjies herleef met slegs ‘n kitaar en ligte baskitaar. Alhoewel mens al vantevore aan ‘n sagter Parow voorgestel is met Tussen Stasies en I miss kan die akoestiese CD nie geëwenaar word nie. Sou dit apart vrygestel word, sou ek net dié een koop vir eers. Van die liedjies wat aanhangers geniet het vir hul harde elektriese klanke is amper nie herkenbaar met nuwe, sagter klanke en selfs stadiger of anders gestileerde lirieke nie. Van die snitte spog met Spaanse flamenko-styl kitaar en ander het ‘n tipiese Amerikaanse country-klank. Daarby het Parow beïndruk met ‘n niekenmerkende Tema van jou lied, wat selfs vir Valiant Swart na ‘n minnesanger laat klink het. Buiten Valiant Swart het kunstenaars soos Pierre Greeff, Mr Cat & the Jackal en Francois van Coke tot die akoestiese CD bygedra. Tema van jou lied is opnuut opwindend, en diegene wat luister kan maar net hoop dat Parow meer sulke golden nuggets sal vrystel. ‘n Akoestiese toer behoort goed te vaar en selfs jou ouma nadertrek.
“Al my liefde in een mens gestop”
Die grootste skok – ten minste, vir iemand wat Parow geniet vir sy wilde, traak-my-nie-agtige lirieke – is die snit, Dis bef*k. Hierdie liedjie is geskryf en opgedra aan sy dogter, Ruby Tyler, wat in 2012 vir Zander Tyler en sy modelmaat Jenna Pietersen gebore is. In die soetsappige lirieke verduidelik Parow (of eerder pappa Zander) dat hy alles omtrent haar geniet – selfs die doeke omruil. Die feit dat “elke sent wat [hy] spandeer” bedoel is “om [haar] happy te sien” sal enige mamma laat smelt, ten spyte van die vloekwoorde. Die persoonlike lirieke dui op ‘n verandering in Parow – “ek was ‘n skelm en ‘n skollie en ‘n semi-alkoholis, nou’s ek vyfuur in die oggend op”.
“His audience buying into the Jack Parow persona so deeply proves that Zander has created the escapism that makes music magical,” het ‘n aanhanger onlangs op iTunes oor die liedjie, Bloubek, geskryf. Dié escapism sal enigeen aangryp, vorige aanhanger of te nie.
Sien die musiekvideo vir Bloubek hier.
Koop snitte of die hele album hier.



