Latest SportSport

Oud-Springbokke genooi om Poorte se 70ste bestaan te vier

Jannie de Beer, Thys Lourens op die lys van bekendes.

Roodepoort — Groot name wat al diep spore in Suid-Afrikaanse rugby getrap het of vir hulle provinsie uitgeblink het, sal Roodepoort Rugbyklub se amptelike 70ste verjaarsdagvieringe bywoon wat Saterdag 22 Februarie in Krugersdorp gehou word.

Volgens die voorsitter van die klub, Neels van Aswegen, “Dien die geleentheid, wat amptelik as die Axxess Sports Media en Roodepoort Rugbyklub se Aand van Legendes bekendstaan, nie net as ‘n fondsinsameling nie, maar ook om dankie te sê aan almal wat in die een of ander rol oor die jare tot die sukses van ons klub bygedra het.”

Alhoewel die klub al verlede jaar 70 jaar oud geword het, en vanjaar 71 jaar oud is, is daar besluit om die vieringe voort te sit en dit net daardie stappie verder te neem.

Die aand wat jou R500 gaan kos, sluit in ‘n driegangmaaltyd, vermaak en ‘n lekker aand se kuier saam met ‘n paar groot name in rugbykringe in.

Volgens die organiseerders verwag die klub om en by 200 mense wat klubspelers, afrigters, komiteelede en gaste insluit.

‘n Paar bekende rugbyspelers wat die aand sal bywoon, is oud-Springbokke soos die flank, Thys Lourens en agsteman, Thys Burger (albei voormalige Blou Bulle), die flank Martin Pelser (‘n voormalige Leeus- en Poorte-speler) en losskakel Jannie de Beer (‘n voormalige Vrystater). Ander groot kokkedore sluit in Hempas Rademeyer (voormalige Leeu- en Poorte-speler), Dries Maritz en die Barnard-broers, Hein en Kalla. Die seremoniemeester vir die aand is die gewilde radio-omroeper van OFM, Pieter Moller. Verrigtinge begin om 6nm in die Krugersdorpse Eeufeessaal.

‘n Kykie na Roodepoort Rugbyklub se geskiedenis:

• Die klub word in 1943 onder die naam Rand Leases Roodepoort Rugbyklub deur oom Joe Fourie gestig.

• Die klubnaam word in 1979 na Roodepoort Rugbyklub (RRK) verander, met Chris van Coller as die voorsitter.

• RRK, wat in daardie stadium deel van die Rand Leases Sportklub is, neem hul huidige logo – die veer – aan na aanleiding van die naam van die plaas waarop RRK gevestig is, naamlik Vogelstruisfontein. RRK se slagspreuk is Arte non Impetu. Dit beteken om jou kuns en nie jou impak nie, te gebruik – iets soos, Skill, not force.

• Waar RRK se gronde nou is, is verskeie sportsoorte soos rugby, tennis, rolbal, krieket en hokkie beoefen. Net RRK is tans nog op die oorspronklike Rand Leases Sportterrein op die hoek van Hamberg- en Reidweg in Florida Meer oor.

• Die klub se huidige kleedkamers is in 1979 deur die Transvaal Rugby Voetbal Unie (TRVU) gebou, aan wie die perseel in daardie stadium behoort het.

‘n Kykie na die tydlyn van die klub se prestasies:

• 1983 – RRK wen die Presidentbeker.

• 1985 – Die Klub bekom die losie op Ellispark, wat 1 047 sitplekke bevat. RRK wen die Pirates Groot Uitdaagbeker. RRK oorheers ook die Liga tot die middel 90’s.

• 1989 – RRK word die eerste Transvaal-klub wat die Toyota Klubkampioenskappe wen; dieselfde jaar waarin Transvaal Rugby Unie 100 jaar oud word.

• 1986 en 1988 – Poorte wen die Plaatkompetisie tydens die Nasionale Klubkampioenskappe in Durban. In die jare daarna wen Poorte ook nog die Plaatkompetisie by die Klubkampioenskappe.

• 1993 – In die klub se 50-jarige bestaansjaar wen RRK die eerste, tweede, derde en vierde liga, met die o.20’s derde na RAU (nou UJ) en Goudstad Onderwyskollege.

• 2006, 2007 en 2010 – Roodepoort is ook die GLRU Oop Klub ligawenners (dit sluit die Universiteite uit).

• 2011 – Roodepoort se eerstespan wen die Assupol-reeks.

• 2013 – Roodepoort se eerstespan is die GLRU-ligawenners.

• 2014 – Roodepoort se eerstespan se tweede agtereenvolgende jaar om vir die Cell C Gemeenskapsbeker te kwalifiseer.

Related Articles

Back to top button