Laerskool Helderkruin het soos gewoonlik elke jaar op Woensdag 6 November die Christusfees op ‘n gepaste, vrolike wyse gevier.
“Die Allegro Con Spirito Kinderorkes onder leiding van me Drina Naudé asook die skool se twee kore het tydens die geleentheid opgetree,” sê Isobel Mitchley van die skool.
“Die Junior koor, onder leiding van Elize Fourie, met begeleidster Isabeau Swanepoel, het die gehoor bekoor met hulle soet kinderstemmetjies deur onder andere ‘n medley van Kersliedere deur die komponis, Danie Hyman uit te voer.
“Die Kinderkoor, met Henk Barnard as dirigent en Melinda Nel as begeleidster, se aanbieding van vier Kersliedere was roerend mooi. Met instrumentale begeleiding deur die bekende Naudé-gesin wat bestaan uit pa Wimpie (dwarsfluit), ma Drina (viool), boet Willie (tjello) en sus Carina (viool), het die koorklanke ‘n mens voorwaar hoendervleis gegee.”
Die gesamentlike item deur die twee kore – ‘n verwerking van ‘n Poolse Kerslied met Afrikaanse lirieke – was ook fenominaal en baie spesiaal .
“En wat kon mooier wees as om die aand met die Kerslied Stille Nag af te sluit,” sê Isobel.



