Familiepret by Kloofendal
Die hele familie kan hierdie Desember groot pret by die Kloofendal Natuurreservaat hê.
Elke lid van die gesin kan baat vind by een van die volgende geleenthede by die Kloofendal-natuurreservaat hierdie Desember.
Kinders kan op Vrydag 13 Desember saam met hul ouers en grootouers meer leer oor boskos en -sap. Met Karin Spottiswoode as gids gaan die groep op ‘n wandeling waar hulle vanaf 8vm na eet- en drinkgoed in die natuur soek. Na verwagting sal die verrigtinge teen 11vm eindig. Aan die einde van die uitstappie sal ‘n paar versnaperinge uit die natuur voorberei word waaraan almal kan proe.
Spottiswoode versoek dat kinders ou klere en stapskoene dra sowel as ‘n hoed en sonskermmiddel saambring. Ekstra versnaperinge en drinkgoed is welkom. Die groep kom 10 minute voor die tyd by die FroK OO Sentrum bymekaar. Die uitstappie kos R80 per persoon.
Nog ‘n ‘Planet Walk’ waartydens deelnemers meer oor die ruimtestelsel sal leer, vind op Saterdag 14 Desember om 8vm plaas. Met Kenny Nevil van die Wes-Randse Sterrekundeklub as gids kan die hele familie deur die reservaat stap en meer oor die ruimtestelsel, planete en sterrestelsel leer. Die spesifieke konstellasies en sterre wat van binne die reservaat te siene is, sal ook uitgewys word. Die kostes beloop R60 per volwassene en R40 per kind.
‘n Alternatiewe aandavontuur word op Saterdag 14 Desember vanaf 5nm aangebied. Deelnemers kan deur die reservaat stap en na interessante plante kyk, kyk hoe die son agter die koppie sak, na die naggeluide luister en uitkyk vir diere wat in die aand rondbeweeg. Gids Grant Egen versoek dat almal stapskoene, ‘n reënjas en flits vir die avontuur saambring. Inwoners is welkom om hul eie eet- en drinkgoed saam te bring. Die groep kom 10 minute voor die tyd by die FroK OO Sentrum bymekaar. Kostes beloop R80 per persoon.
Vir verdere inligting of besprekings kontak gerus vir Karin Spottiswoode by 079 693 5608 of 011 674 2980.



