APK Witpoortjie vier reeds Kersfees
Die APK Witpoortjie hou 'n Kerssangdiens en beloon Sondagskoolleerlinge vir hulle harde werk.
Die Afrikaanse Protestante Kerk in Witpoortjie in Corlettrylaan het reeds op Sondag 24 November met hul Kersfeesvieringe begin.
‘n Kerssangdiens is om 6nm deur ds Hansie Janse van Vuuren, die kerkkoor en die groepie Sondagskoolleerlinge vir die gemeente aangebied. Volgens inwoner Mathilde Schulz het hierdie Kerssangdiens hulle “aan die ware boodskap van Kerfees herinner”.
Na afloop van die diens is sertifikate aan Sondagskoolleerlinge toegeken vir hulle deelname deur die jaar en hul prestasies in ‘n nasionale Bybelkenniseksamen. Sommige leerlinge het Platinum- (95 persent) en Hoogste Lof-sertifikate (100 persent) vir hul Bybelkennis verwerf.
Die aand is afgerond met koffie en eetgoed buite die kerk.
“Mag u ‘n geseënde Christusfees geniet,” is netjies agterop die program van die aand gedruk.



