Dit gons behoorlik onder inwoners oor die ‘nuwe’ stadsraad.
Daar word lekker in die mou gelag en die draak gesteek met die nuutgevonde vlytigheid van City of Joburg se diensleweraars maar die meer siniese inwoners sien tien teen een deur die entoesiasme so kort voor volgende jaar se verkiesing.
As ‘n steekproef het die Record die oggend van 13 November net vir so tien minute in die omgewing van die Caxton-kantore gaan rondry en was amper oorbluf deur al die aktiwiteite.
‘n Reuse slaggat in Crousrylaan is oornag herstel (alhoewel die vakmanskap twyfelagtig is), City Parks was op verskeie punte besig om bome af te saag en sypaadjies netjies te maak, in Albertina Sisuluweg was JRA (Johannesburg Roads Agency) doenig en Pikitup was fluks besig in Wilropark. Dit lyk veral of openbare probleme vinniger as gewoonlik aandag kry.
“Dit sal seker ook net tot en met die verkiesing hou,” is die refrein wat die Record deesdae telkens moet aanhoor.



