Latest SportSport

Die Wes-Rand se “Speed Freak”

Plaaslike renjaer praat oor sy sukses in motorsport.

Ten spyte van ‘n byna noodlottige ongeluk 14 jaar terug wat byna sy lewe geëis het en sy vrou wat daarop aandring dat hy liewer die stuurwiel moet bêre, weier die Wes-Rand se Speed Freak, Johan van Zyl (42), om sy liefde vir motorsport prys te gee.

Inteendeel, Johan wil nog trofeë in Drag Racing inpalm om by die meer as 40 te voeg wat hy reeds in die trofeekabinet het.

“Dit is maar moeilik om dit te los – nommer een, ek geniet dit vreeslik, nommer twee dit verlig stres en nommer drie daar is doelwitte wat ek vir myself gestel het,” sê Johan vir die Record.

Alhoewel hy sedert 1993 by motorsport betrokke is, het Johan se liefde vir die reuk van metanol en gebrande rubber reeds op die ouderdom van vier begin. Johan het glo ‘n babastootwaentjie rondgestoot asof dit ‘n sportmotor was. Hy het dan die waentjie omgekeer en soos ‘n motorwerktuigkundige daaraan ‘gewerk’ . En as dit nie meer lekker was nie, het hy met ‘n stuurwiel in die hand in die huis rondgehardloop asof hy op ‘n renbaan was.

In 1993 het hy vir die eerste keer by motorsport betrokke geraak toe hy sy vrou Annesta by Motorsport Suid-Afrika Marshals Association aangesluit het. In 1994 het sy renjaerloopbaan amptelik begin. Sy eerste renmotor was ‘n Big Six 3.0L V6 waarmee hy Vrydae-aande aan Drag-byeenkomste by die Tarlton International Raceway deelgeneem het.

Intussen het Johan ook op die Dirt Oval Track op klub- en streekvlak in die 2 000cc-klas deelgeneem. Hier het Johan in renmotors soos ‘n Datsun GX Coupe, ‘n Mazda 323 met ‘n Ford 2.0-enjin en ‘n MK1 Ford Escort ook met ‘n Ford 2.0-enjin gejaag.

Teen daardie tyd het Johan se status van MSA Beampte na ‘n A-graad Ondersoeker verander. Hy besluit toe om dinge verder te neem en het toe sy Clerk of the Course (COC) eksamen in Drag Racing en Oval Racing geslaag.

In dieselfde jaar het Johan ook die funksies van ‘n MSA-bestuurder uitgevoer. Met al die kwalifikasies agter sy naam kon Johan van 1996 tot 2010 by alle SA Nasionale Drag Racing-byeenkomste van ‘n seisoen as COC optree.

Kort voor lank was hy ‘n lid en verteenwoordiger van die Uitvoerende Komitee van MSA se Nasionale en Streek Drag Racing. Hy word toe ook lid van SA Drag Racing se tegniese span.

Maar op 13 Junie 1999 het sy liefde amper in ‘n groot tragedie geëindig. Terwyl Johan as beampte tydens ‘n wedren opgetree het, het ‘n renmotor hom omgery. Johan het oor die baan tot op die grasgedeelte gehardloop, maar een van die renjaers het beheer oor sy motor verloor en hom daar raakgery.

Hy sê hy onthou dit soos gister.

“Ek was 21 dae in die intensiewesorg-eenheid nadat my ribbes, altwee bene, heup en sleutelbeen gebreek was. Ek was drie maande lank in ‘n rolstoel en het gedink ek sou nooit weer loop nie. Ek was op die verkeerde plek op die verkeerde tyd,” verduidelik Johan.

Johan het ook bygevoeg dat alhoewel dit ‘n fratsongeluk was, hy as renjaer nog nooit in ‘n ongeluk betrokke was nie.

Johan se persoonlike beste en vinnigste tye as renjaer lyk so:

• Sheriff Camaro: 15,01 sekondes (Tarlton); 14,2 sekondes (Mtubatuba)

• Blue Camaro: 12,18 sekondes

• Corvette: 9.15 sekondes

• Sheriff Camaro: 145km/h

• Blue Camaro: 179km/h

• Corvette: 245km/h

Sy indrukwekkende lys van prestasies lyk so:

• 2011: 1ste – SA National Drag Racing (Modified Street-kategorie) Sheriff Camaro

2de – Tarlton Motorsport Club (Modified Street-kategorie) Sheriff Camaro

1ste – Regional Drag Racing (Competition Eliminator-kategorie) Blue Camaro

3de – Tarlton Motorsport Club (Competition Eliminator-kategorie) Blue Camaro

• 2012: 3de – SA National Drag Racing (Super Competition Eliminator-kategorie) Corvette

4de – Regional Drag Racing (Super Competition Eliminator-kategorie) Corvette

4de – Tarlton Motorsport Club (Super Competition Eliminator-kategorie) Corvette

• 2013: 1ste – SA National Drag Racing (Super Competition Eliminator-kategorie) Corvette

2de – Regional Drag Racing (Super Competition Eliminator-kategorie) Corvette

Hy bedank ook graag Tarlton Motorsport, VR Engineering, FUCHS Lubricants, NGK Spark Plugs, Alex Pro-Balance, Hoosier Racing Tire en TDS.

 

Johan van Zyl, die Wes-Rand se Spead Freak by Forever Young.
Johan van Zyl, die Wes-Rand se Spead Freak by Forever Young.

Related Articles

Back to top button