Laerskool Dr Havinga het met ‘n groot liefdadigheidspoging vorendag gekom deur onlangs byna R14 000 vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) in te samel.
Leerlinge en onderwysers het op Vrydag 25 Oktober ‘n walk-a-thon op die skoolgronde gehou met die doel om geld vir Kansa in te samel. Die skool het bevestig dat ‘n bedrag van R13 850 dié dag ingesamel is en almal se verwagtinge oortref het.
Lizelle Kies van die skool sê, “Havies het besluit om vanaf 2012 vir Kansa as ons liefdadigheidsorganisasie aan te neem. Hierdie jaar het ons besluit om ‘n walk-a-thon te hou. Al die geld wat ingesamel is, word aan Kansa geskenk. Ons noem die projek van die begin af ‘Havies maak hul hart oop’.
“Op die dag het elke graad sy eie kleur bandana gekry. Die kleure verteenwoordig verskillende soorte kankers.
“Die Graad R’e en 4’s was oranje – wat leukemie voorstel, die Graad 1’s rooi vir velkanker, die Graad 2’s en 5’s geel vir kinderkanker, die Graad 3’s en 7’s pienk vir borskanker, en die Graad 6’e blou vir kolonkanker.
“Dan het die Graad R-leerlinge – wat almal die roete op hulle skopfietse voltooi het – dié voorgestel wat die stryd teen kanker gewen en oorleef het.
“Elke graad het dié dag meer oor die soort kanker geleer wat hulle kleur voorgestel het. Daar was ook werkopdragte vir elke graad”.
Dr Havinga se twee kankeroorlewendes, Ansie van Dyk wat ‘n admin personeellid is en Jayden Scholtz wat in Graad 3 is en tans in remissie van leukemie is, het ook gestap. Zandri Schickerling van Kansa het ook die geleentheid bygewoon.
Lizelle het bygevoeg, “Vir my was dit belangrik dat die leerlinge geleer het om vir mense wat nie so gelukkig soos hulle is nie om te gee en te gee, om bewusmaking te bevorder en natuurlik ook om vir Kansa te kon help”.
Nadat die hele skool om die veld en skoolgronde gestap het, het hulle bymekaargekom en een groot hart gevorm, waarvan daar kiekies geneem is.



