Bastionners kon hulself maklik verbeel dat hulle in die wêreldbekende Broadway Teater in New York was toe hulle hul revue, Bastion Broadway, vir ‘n week lank (14 tot 17 Oktober) op die planke gebring het.
Leerlinge van Graad 8 tot Graad 11 het hulle ingeleef in die musiek uit blyspele soos The King and I, My Fair Lady, Annie, Fiddler on the Roof, Phantom of the Opera, Evita, Paint your Wagon, The Lion King en nog vele ander.
Liedjies soos Getting to know you, I could have danced all night, Tomorrow, If I were a rich man, Don’t cry for me Argentina, They call the wind Maria en Can you feel the love tonight het lewe gekry op die verhoog.
Leerlinge, ouers en personeel het saamgestem dat hierdie verrykende ervaring die harde werk en laat aande werd was.
Melitta Geyser van die skool sê die volgende oor die oulike vertonings, “Ons het heelwat komplimente van ouers en die publiek gekry oor die leerlinge se idees, entoesiasme en talent.
“Ek dink almal het hul goed van hul taak gekwyt, veral omdat daar min tyd was om voor te berei. Leerlinge het net so voor die Oktober-vakansie aan die werk gespring om die danspassies te leer.”
Melitta meen die Graad 11’s se They call the wind uit die blyspel Paint your wagon – wat basies gaan oor ‘n mynwerker, sy dogter asook die lief en leed van die mense in ‘n mynkamp in Kalifornië – haar gunsteling is.
“Dit was beslis iets om te beleef,” het sy aan die Record gesê.
Die laaste vertoning was op Donderdagaand 17 Oktober.



