Corbetts loof medemenslikheid
Die Corbett-egpaar is baie dankbaar vir al die bystand na die gewelddadige aanval.
Eddie en Hester Corbett, wat vroëer in September die slagoffers van ‘n gewelddadige rooftog was, wil graag dankie sê.
Die Corbetts moes laatmiddag op 6 September flink dink toe daar eers ‘n rewolwer by hulle afgeneem is en daarna ‘n skoot vir Eddie in die voet getref het toe die verdagtes gevlug het. Die paartjie is in hul inrit deur rowers aangeval wat hulle huis toe gevolg het.
Eddie sterk tans by die huis aan nadat ‘n noodoperasie op sy voet uitgevoer is.
Hester het die Record gekontak om dankie te sê vir “puik polisie-optrede”.
“Almal kla maar altyd oor die polisie se laksheid maar dit is glad nie my ervaring met die Roodepoort-polisie nie – hulle was flink.
“Ek wil spesiaal dankie sê aan kolonel van Rooyen en adjudant-offisier Van Deventer en Pieterse; julle het ons werklik te hulp gesnel.”
Hester noem ook dat die Witpoortjie-buurtwag (Sektor 2) blitsvinnig op die toneel was, en hoewel sy nie almal se volle name kan onthou nie, bedank sy graag vir Anton, Hester, Charlie, Cynthia en André.
‘n Ander groot hulp, vertel Hester, was Deons Key Services wat vinnig die slotte en sleutels kom vervang het.
“Ons bly al 39 jaar hier en was aangenaam verras deur die hulpvaardigheid en medemenslikheid van nie net die beamptes en buurtwag nie, maar ook ons gemeenskap, vriende en (lank nie meer) vreemdes [sic].”




2 Comments