egpaar het net van die Key West winkelsentrum teruggekeer toe twee rowers hulle deur hulle elektriese hek volg.
Eddie Corbett (66) en Hester Corbett (65) van Maplestraat in Lindhaven het op die middag van 6 September hulle in die nagmerriesituasie bevind om binne hulle eie motor vasgekeer te wees met ‘n gemaskerde rower by elke deur – een gewapen.
Meneer Corbett het sy deur gesluit gehou en die venster toe en sonder om die gewapende rower in die oë te kyk vir hom beduie om pad te gee.
Mevrou Corbett was minder gelukkig, haar deur was reeds oop en die tweede rower het aan haar juwele begin ruk en eise aan haar geskreeu. Mevrou Corbett het haar vuiste gebal sodat die armbande nie kon afkom nie en aan die rower gesê dat sy dit self sou afhaal aangesien hy haar seer maak waarop die man haar met die vuis geslaan het. Op die ingewing van die oomblik het sy haar kosbare trouring afgepluk en oor die muur na die bure se erf geskiet. ‘n Stoeiery het weer ontaard en weer is mevrou Corbett met die vuis geslaan.
Die tweede rower het intussen om die motor gekom om sy makker te help en meneer Corbett het dit as ‘n kans gesien om na sy 9mm pistool onder die sitplek te reik. Een van die rowers het dit gesien en bo-oor mevrou Corbett geduik en die pistool gegryp.
Meneer Corbett het hierna uitgespring met ‘n seekoeisambok (die rowers het intussen die motorsleutels gegryp en ‘n robynhangertjie van mevrou Corbett se nek geruk) en die rowers bestorm. Net buite die erf het hy wel een hou ingekry. Die rowers het in ‘n motor gespring waar ‘n derde makker met hulle weggejaag het.
Eers toe wou meneer Corbett weet of iemand getref is aangesien hy ‘n skoot gehoor het waarop mevrou Corbet hom daarop gewys het dat hy in die voet getref was. ‘n Noodoperasie is gedoen en Meneer Corbett sterk tans aan.
Die egpaar sê die rowers het soos gesoute misdadigers opgetree en nie net maskers maar ook handskoene gedra.
Die Corbetts loof die SAPD vir hulle optrede.



