Ene Sol Masolo van City Power se kommentaar by die berig “Kompleks sonder krag vir meer as 27 uur” (Roodepoort Record van 13 September 2013 asook op looklocal vroeër in die week) kan nie onbeantwoord gelaat word nie.
Sy kommentaar op die donker nag wat sekerlik nog ‘n paar nagte sou geduur het as dit van kommentaar soos Sol Masolo s’n afgehang het, laat my kragteloos en is die enigste ligpunt die onbedoelde humor (lag met ‘n traan) in sy kommentaar.
Ek weet nie watter pos Sol beklee nie, maar ek vind dit ironies en kommerwekkend dat hy nie in ‘n posisie was om met die waarheid vorendag te kom nie. Op dieselfde dag waarop sy kommentaar op looklocal verskyn het, het City Power erken dat “sabotasie” (hulle term) verantwoordelik was vir verskeie kragonderbrekings in Johannesburg.
Op dieselfde dag is daar onverbiddelik standpunt ingeneem deur hogere (?) City Power amptenare oor die implementering van ‘n skofstelsel aangesien die vorige bedeling “misbruik” is. Ek het net gewonder oor die diensvoorwaardes van mense wat vir lang tydperke reeds ‘n goeie en lojale diens gelewer het ten opsigte van kragvoorsiening in Johannesburg.
Moet diesulke werknemers nou vir die eerste keer skofte in hul jarelange gesins- en lewenspatrone akkommodeer?
Het Sol Masolo geweet van die diepe frustrasies en kostes van herhaalde oproepe (wat later sou blyk valse beloftes en hoop, én vrugteloos te wees) na City Power met verwysingsnommers en al, terwyl hulle voor hulle siel geweet het dat daar nie ‘n kat se kans was dat kragonderbrekings herstel sou word nie. Bekende ekonome gooi salarissyfers van hierdie bedorwe brokkies met ‘n hoë inkomste rond wat net hulle sin wil hê en die land miljoene kos.
Wat is persone soos Sol en die hogere amptenare met hulle onverbiddelike uitsprake se salarisse? Gaan hulle ook skofte werk? My aanvoeling en leke-indruk is dat die moontlikheid sterk is dat lojale werknemers van City Power se basiese diensvoorwaardes en -regte deur ‘n diktatoriale en eensydige propagandistiese tsunami van eensydigheid verswelg is.
Ek dink nie die basiese regsreël van audi alteram partem – luister na die ander kant ook – het in hierdie geval geseëvier nie (en ek praat juis nie net van die “stakers” en “saboteurs nie). Na wat berig word het die vakbond(e) ook ‘n eienaardige rol gespeel: enersyds is berig dat dit ‘n “onwettige” staking was deur ‘n klein minderheid omdat dit nie deur die vakbond(e) ondersteun is nie en andersyds is berig dat daar ‘n ooreenkoms met die vakbond(e) bereik is wat die skofstelsel betref. Nou ontstaan die vraag: wie word deur die vakbond(e) verteenwoordig en het die vakbond(e) ‘n mandaat van sy lede gehad? Is daar werknemers wat nie deur die vakbond(e) verteenwoordig is nie?
Maar nou ja, ek is maar net een van ‘n paar inwoners wat elke sent wat die keiser (met die onsigbare klere?) toekom, betaal en betaal en dan ‘n nag of wat moet klaarkom sonder die einste dienste waarvoor ek betaal het. Is ek reg as ek sê dat die Konstitusionele Hof pas uitspraak in hierdie verband gelewer het?
Ten slotte aan Sol Masolo: die kragonderbreking by De Galdery was eienaardig genoeg slegs tot De Galdery se wooneenhede beperk en is voorafgegaan deur ‘n korter kragonderbreking asook ‘n waterdrukonderbreking. Met betrekking tot sy niksseggende redenasie oor “…geen krag van buite … ons (City Power) verantwoordelikheid ens: dit was ‘n kragonderbreking van buite en daar was niks verkeerd “binne” die kompleks nie.
Nóú vir De Galdery se onverklaarbare en verlammende City of Johannesburg waterrekening.



