Editor's choiceLocal newsNews

Gekaapte se welstand belangriker as om die nuus te haal

Man sê Annatjie is ongedeerd, maar is later deur die media oorval.

Luidens ‘n onlangse artikel is Annatjie Nel op Maandag 9 September voor haar huis in Roodepoort gekaap.

Die Beeld-verslag lui dat Nel besig was om oor die selfoon met haar man Jacques, wat tans in Zimbabwe werk, te gesels toe ‘n verdagte ‘n pistool op haar rig en haar uit die gesin se Land Rover Discovery 4 na ‘n wagtende wit driereeks-BMW toe dwing.

Nel het vir Beeld vertel dat daar vir byna twee ure met haar op die agtersitplek rondgery is en dat die motor gedurig gestop het om bestuurders en passasiers te ruil.

“Ek het met my hand oor my oë gelê,” is vir Beeld vertel.

“Al waaraan ek kon dink was my gesin. Ek het gebid dat – sou dit my tyd wees – God met my kinders sal wees.

“Een van die kapers het selfs erken hy bid ook elke oggend en aand en vra vergifnis vir sy dade,” vertel Nel, wat fisies ongeskonde daarvan afgekom het.

Nel het vir die bykans twee ure in die BMW die Onse Vader gebid, en een van die boewe het aan haar erken dat hy swaarkry, nie werk het nie en kapings doen om te oorleef. Hy het glo verduidelik dat hy dit as sy werk beskou.

Nel is later in Dube in Soweto afgelaai, wat om en by 20 kilometer van haar woning af is.

“Eers toe ek om 8.45nm voor ‘n gesin in Dube se deur staan met my handsak en rybewys, het die trane oor my wange gestroom.”

Volgens haar man, Jacques Nel wat intussen uit Zimbabwe teruggekeer het om sy vrou by te staan, is sy Woensdagoggend by die apteek in Constantia Kloof waar sy werk, deur ‘n dagbladverslaggewer ingewag.

“Dit was alles net te veel vir haar,” verduidelik hy. “Toe neem ek haar maar huis toe.

“Sy sien nog nie kans om met die media oor die voorval te gesels nie.”

Vir Nel is sy vrou se emosionele welstand belangriker as mediaversoeke en het gesê dat hy later die Record se vrae sal beantwoord.

“Die polisie is steeds besig met ‘n ondersoek,” het Florida-polisiewoordvoerder Lydia Dikolomela aan die Record verduidelik. Teen Woensdag is nóg die motors nóg die verdagtes opgespoor.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button