Ek dink dikwels terug aan die dae toe mens Melville en omliggende areas toe kon gaan om al jou gunsteling kunstenaars te sien optree.
Maar so het dié plekke een vir een hul deure toegemaak of meer kommersiële kunstenaars het daar begin optree. Die kleiner kroeë het die saak probeer red deur nuwe orkeste te laat optree, maar dit het vir bitter min vermaak gesorg.
Gelukkig vir dié wat behoorlike Suid-Afrikaanse musiek geniet, is die eienaars en bestuur van Rumours Lounge en die manne van Sabbath Events se koppe reg aangeskroef.
Ek het al ‘n paar groot optredes daar beleef, maar toe Bittereinder op 6 September daar optree, het ek die opgewondenheid van die verlede herleef. ‘n Internasionaal bekende groep op ‘n verhoog naby jou; klink soos die goeie ou dae. Die kletsrym/ hip-hop trio (Jaco van der Merwe, Louis Minnaar en Peach van Pletzen) se optrede was uitstekend en dit het die sowat 350 aanhangers behoorlik aan die spring gehad. Thundermerwe, Stereo Jacks en I AM en die gehoor solank opgewarm voor Jaco en die manne hulle verskyning gemaak het.
Dit is duidelik dat die uitleg van Rumours se nuwe verhoog en dansvloer baie goed deurdink is. Daar is oorgenoeg spasie vir die kunstenaars op die verhoog en aanhangers kan in hordes op die dansvloer saamdrom.
Sabbath Events – die organiseerders van die Bittereinder-gig – se Gert Botes vertel dat Bittereinder ‘n uitstekende span was om mee saam te werk.
“Ek wil net graag dankie sê aan Rumours Lounge, die supporting bands, Music Connection en die tattoe-borg Tattoolya.”
Volg gerus Sabbath Events op twitter @sabbathevents en facebook. Klink my daar is ‘n hele paar goeie optredes op pad.



