Grafsteen onrustig tussen skole
Dit blyk dat dié Witpoortjie grafsteen nooit ten ruste sal kom nie.
Dit wil voorkom of die Janse van Rensburg-grafsteen onrustig geraak het en van die een skool na die ander in Witpoortjie rondbeweeg.
Dit is die bevinding na die Record die grafsteen op Dinsdag 13 Augustus weer op ‘n ander plek gesien het – dié keer in Hugenootstraat in Witpoortjie, buite Roodebeeck Laerskool se gronde.
Dieselfde grafsteen van ene Anna Magdalena Janse van Rensburg (1943-2009) het laaskeer by Princess Primary School in Vredenhoekstraat gelê.
Jan Henning het vroeër die Record gehelp met kontakbesonderhede van familielede. Henning het verduidelik dat hy ‘n Anna Janse van Rensburg se huis in Georginia gekoop het. Die kontakbesonderhede het niks opgelewer nie, tot die ontsteltenis van verskeie inwoners.
Die gerug is dat Anna op soek is na haar alma mater, dié dat die grafsteen van die een skool na die ander dwaal.
Niemand weet egter hoe die grafsteen verskuif is, en deur wie nie.
Inwoner Thilda Taljaard het die Record gekontak met ‘n interessante verhaal oor haar verhouding met Anna Janse van Rensburg.
Sy het die Record saamgenooi na Westhaven Memorial Park in Mindalore, Krugersdorp, waar sy beweer Anna Janse van Rensburg te ruste gelê het.
“Ek het altyd my honde hierheen gebring om ‘n bietjie rond te hardloop. “Ek het eendag op Anna se graf afgekom en dit was vir my vreeslik snaaks dat haar grafsteen aan die voetenent van haar graf geplaas is.”
Taljaard het vertel dat dit jare gelede die gebruik was vir persone wat selfmoord gepleeg het. Op een van haar uitstappies na die begraafplaas het Taljaard Anna se familie by die graf opgemerk en hulle gevra hoekom dit so gedoen is.
“Wat ek wel kon vasstel is dat sy nie selfmoord gepleeg het nie en dat sy blykbaar ‘n gereelde drinker was.
“Ek het haar nooit geken terwyl sy gelewe het nie, maar het altyd gespot dat ek vir Anna gaan kuier as ek hierheen kom.”
Taljaard kon ongelukkig nie die Record in kontak bring met ander Janse van Rensburgs nie.
As enige persoon enige verdere inligting kan verskaf oor Anna Janse van Rensburg of haar familie, kontak gerus joernalis Mathilde Myburgh per e-pos by mathildem@caxton.co.za.



