Ontmoet die gesig op jou skerm – Arno Greeff
Hy het die afgelope ses jaar rolle gehad in 'n aantal films, en in meer as 300 episodes van ses sepies, en word beskou as die mees ervare akteur onder die ouderdom van 25.

In sy reis van ‘n oudleerder van Laerskool Helderkruin na die rooi tapyt en verskeie films en sepies, het die jong akteur Arno Greeff definitief ‘n indruk in die filmbedryf gemaak.
Hy was 17 toe hy vir die eerste keer in ‘n film opgetree het. “Ek het ‘n klein rol gehad in die film Verraaiers. Ek het saam met die akteur Altus Theart in ‘n winkel ingestap en moes net sê ‘Veg in die oorlog’,” het hy vertel.
Hy het die afgelope ses jaar rolle gehad in agt films, waaronder Die Pro en Vaselinetjie, en in meer as 300 episodes van sepies soos Getroud met Rugby, Bloedbroers en Generations, en word beskou as die mees ervare akteur onder die ouderdom van 25. “Ek het glad nie ‘n passie vir toneelspel gehad toe ek op laerskool was nie. Ek het vir die eerste keer toneel gespeel toe ek 16 was; verder het ek meestal net aan sport deelgeneem,” het Arno vertel.

Die toneelwêreld bied hom die geleentheid om soms buite sy gemaksone te werk en nuwe dinge aan te pak. “Ek is ‘n introvert maar ek hou daarvan om mense te vermaak. My gunstelingaspek van toneel is dat ek die geleentheid kry om baie dinge as akteur te doen wat ek nooit uit my eie sou doen nie,” het hy gesê.
Vanjaar sal Arno elke romantikus se droom bewaarheid in die nuwe film Vergeet my Nie wat op 14 Februarie in teaters begin draai het. “Die film speel af in die 1990’s waar die hoofkarakter, Mardeleen, en haar skoolliefde, Braam op universiteit is. Braam is die ekstrovert wat almal ken, en almal ken hom. Hy is die hart van die partytjie met oë wat dwaal en wat rook, maar hy steek dit weg,” het hy verduidelik.
Die akteurs is teruggeneem na die era van Bon Jovi, swart leerbaadjies en Spice Girl-tekkies. “Daar was ‘n egte 90’s gevoel toe ons verfilm het, en dit was gemaklik en lekker. Ons het volgens daardie tydperk aangetrek en die filmstel was ook so reg uit daardie era. Ek dink die film sal mense weer in die liefde laat glo en dat die regte persoon daar buite is. Al loop die lewe soms draaie, sal jy uitkom waar jy moet,” het hy bygevoeg.
Hy is tans besig om ‘n Netflix-reeks op te neem wat in April vrygestel sal word, en verskyn gereeld as aanbieder op Fiësta. “Ek wil graag nog eendag die hoofkarakter in ‘n romantiese storie speel. Ek wil die nice guy wees – nie die een wat harte breek nie, maar die een wat harte steel,” het hy genoem.
Hy ontspan graag op die gholfbaan en die rugbyveld, en maak musiek. Hy hoop om later meer geleenthede te kry om sy passie om agter die kamera as vervaardiger te werk, uit te leef. Hy fokus vanjaar daarop om op internasionale vlak raakgesien te word, en hoop om eendag deel te wees van die Afrikaansefilm-revolusie, en die jonger generasies weer trots te maak op die taal en films.




