Discovery-paartjie vier vyf dekades van oneindige liefde
"Dit was asof ons dadelik saamgehoort het."
‘n Atmosfeer van geluk en vrede is al wat mens na 50 jaar se liefde en trou in Tina en Bennie Pretorius se huis ervaar.
Hulle het mekaar in 1962 by ‘n gemeenskaplike vriend se huis ontmoet, toe Tina en haar ouers vir vriende gaan kuier het, en Bennie vir sy skoolvriend gaan kuier het.
“Dit was asof ons dadelik saamgehoort het. Ons vriendskap het van daardie dag af net sterker geword en gegroei. My familie het vir Bennie ingeneem nadat sy ouers oorlede is,” het Tina verduidelik.
Sewe jaar later het die liefde steeds geblom, en hulle het in 1969 verloof geraak. “Ons was lank saam en die verlowing was altyd deel van ons beplanning. Ons het net geweet dat ons trou aan mekaar wil belowe en dit het maar net gebeur. Ons was van die begin af ‘n eenheid en ons het alles deurgepraat,” het Bennie gesê. Tina het verduidelik hoe hy self haar unieke verloof- en trouring ontwerp het.
Hulle het vertel van die herinneringe en spesiale oomblikke wat hulle net meer aan mekaar vasgegom het. “‘n Liefde wat ons albei nog al die jare deel is ons liefde vir musiek. Hy het baie plate gehad en altyd met sy DKW-motorfiets na my toe gery en vir my plate gebring. Hy het geweet my gunstelingplaat was I can’t stop loving you, en het dit altyd gebring sodat ons saam daarna kon luister. Ons het vandag nog die plaat van ons gunstelingliedjie, Lace covered window van The Mike Sammes Singers wat op ons troue gespeel is,” het Tina vertel.
Op 31 Januarie 1970 het hulle in die gemeente in Melville trou aanmekaar belowe. Hulle het soveel as moontlik saam probeer doen, en ‘n reis onderneem om die land saam te verken. “Ons het baie herinneringe; ons het nie dieselfde goed oorgedoen nie,” het sy bygevoeg. “Ons het saam deur die land getoer en soveel plekke gesien, selfs Maputo, en die ou Rhodesië,” het Bennie gesê. Die paartjie is geseën met twee kinders, ‘n seun wat tans in London woon, en ‘n dogter wat in Kanada woon.
Na meer as vyf dekades saam, is hul oneindige liefde vir mekaar iets kosbaar. Tina het vertel hoe sy haar man se rustigheid en sagtheid waardeer. “Ek sal die liefde, en die manier hoe hy my behandel en my rustig maak altyd koester. Ek weet ek kom altyd eerste in sy lewe,” het Tina met waardering genoem.
“Sy is ‘n groot steunpilaar vir my en die wedersydse respek, die oorvloed van liefde en verdraagsaamheid sal ek nooit ophou koester nie. Ons het ‘n sterk verhouding en ‘n sterk geloof, en deur God se genade het ons dit gemaak deur al die jare,” het Bennie met dankbaarheid afgesluit.




