Roodie-atlete skitter tydens interhuis
Die leerders wat in die onderskeie items in die top vier plekke geëindig het, sal in die span opgeneem word wat teen verskeie skole in die area sal kompeteer.

Laerskool Roodekrans het die nuwe skooljaar met hul jaarlikse interhuisatletiekbyeenkoms afgeskop, waartydens die leerders die kans gehad het om hul talente in die onderskeie items ten toon te stel.
Die atlete het uitgeblink in elke item, van langafstande hardloop tot gewigstoot, totdat ‘n onverwagte reënbui hul genoodsaak het om halt te roep. Die res van die items is na Maandag, 20 Januarie verskuif, en die Graad RR’s tot Graad 3’s kon wys waartoe hulle in staat is.

Die klein lyfies wat by die wegspringpunt gestaan het, kon nie wag dat die afsitter die fluitjie blaas sodat hulle so vinnig as wat hulle kon na die wenpaal toe hardloop nie. ‘n Paar het met die aarde kennis gemaak, en van die Graad RR’s het die pad byster geraak nadat hulle vir mamma of pappa langs die baan raakgesien het, maar ten spyte daarvan was dit tog heel duidelik wie die atlete van die toekoms gaan wees.

Die leerders wat in die onderskeie items in die top vier plekke geëindig het, sal in die span opgeneem word wat teen verskeie skole in die area sal kompeteer.




