Florida-paartjie vier 50 jaar van liefde
'Jy moet respek vir jou maat hê en mekaar ten volle vertrou'.
Marthie en Willem Breedts, albei 70, het vanjaar hul 50ste huweliksherdenking gevier. Hul liefde vir mekaar is nog net so sterk soos die dag toe hulle ontmoet het.
Die paartjie ken mekaar al van hul hoërskooljare in Westdene af en Willem het vertel, “Ek het een Sondagmiddag vir Marthie sien terugstap na ‘n middagswem, en daarna net sterre in my oë gehad”. Nie lank daarna nie het hulle verloof geraak en op 13 Desember 1969 het hulle aan mekaar trou beloof. Hulle woon die afgelope 19 jaar in Florida.
Hulle is albei lief vir die buitelewe, en het vertel dat van hul beste herinneringe uit hierdie liefde spruit. “Ons het baie avonture saam aangepak – langs die viswaters, by die see en wanneer ons gaan kamp het,” het hulle vertel.
Willem het bygevoeg dat hul gedeelde liefde vir motors ook vir hom baie spesiaal is. “Ek het baie daarvan gehou om aan motors te werk, en Marthie het altyd saam met my gewerk.”
Die paartjie stap die lewenspad nou al vir ‘n halfeeu saam, en Marthie het gesê dat hulle ‘n goeie lewe saam gehad het. “Ek kan sê dat ek alle dinge wat my hart begeer het, gekry het. En alles wat ek nog altyd wou doen, het ek saam met my man gedoen.”
“Ek is nou al 30 jaar lank ‘n diabeet, en ons is vol nonsens, maar sy het met my uitgehou. Twee dinge wat tel as jy trou is om respek vir jou maat te hê, en om mekaar ten volle te vertrou. Julle moet alles deel en dit moet gesamentlik gedoen word. En, vergeet van ‘nee’; ek het nog nooit vir my vrou ‘nee’ gesê nie,” het Willem laggend afgesluit.




