Help vegterjie om sy mylpaal te bereik
Diegene wat 'n gewillig is om geld te skenk sodat die nodige toestel gekoop kan word en die seuntjie 'n geleentheid te gee om 'n belangrike mylpaal te bereik, word versoek om asseblief vir Louise by 084 457 7050 te skakel
Vanjaar het klein Brodie Snyman reeds ‘n paar struikelblokke oorkom, en daar is nog ‘n paar in sy pad.
Die tweejarige het asemnood tydens geboorte ontwikkel en is as serebraal gestrem gediagnoseer. As gevolg daarvan ontwikkel Brodie heelwat stadiger en sal hy nie die mylpale vir ‘n normale kind van sy ouderdom kan bereik nie.
“Brodie is gediagnoseer met skoliose wat sy heupe begin aantas, en hy sukkel met spierspasmas. Ek help hom elke dag met terapie en oefeninge vir sy spiere. Die neuroloog het Botox-inspuitings vir die erge pyn in sy rug voorgeskryf, wat baie help en voorkom dat sy spiere in spasma gaan. Ons moet wel die koste van die narkotiseur dra,” het Louise Snyman, Brodie se ma gesê.
Lees meer:
https://roodepoortrecord.co.za/2019/07/29/brodie-gee-nie-sommer-op-nie-serebraal-gestremde-seuntjie-gee-nie-sommer-op-nie/
Vroeër in Oktober is Brodie vir die eerste maal in ‘n lang tyd in die hospitaal opgeneem toe sy koors tot 40 °C gestyg het weens ‘n virale infeksie. “Wat vir ons ‘n normale verkoue is, is vir Brodie baie gevaarliker omdat sy longe verswak is en longontsteking kan ontwikkel,” het Louise gesê.
“Hy is reeds ontslaan en doen tot dusver baie goed. Hy kom al twee weke lank sonder suurstof klaar, wat ‘n groot vordering is, maar ons hou hom dop. Hy het ‘n afspraak met sy dokter sodat gekyk kan word hoe dit met sy longe gaan,” het Louise bygevoeg.
Een van Brodie se grootste probleme is sy heupe. Hy het dringend ‘n mediese toestel nodig om sy postuur te verbeter sodat hy later kan leer loop. “Brodie se ruggie raak al hoe erger. Die spasmas trek hom in ‘n bondeltjie en dan kan hy nie beweeg nie. Dit veroorsaak ongelooflike pyn. Ons moet die toestel kry om hom regop te kry, en sy rug en heupe te help,” het Louise vertel.

Alhoewel Brodie se ouers ‘n mediese fonds het, dek dit nie al die kostes nie. Die mediese toestel wat hy nodig het, kos R108 000, wat die medies nie dek nie. In Augustus is ‘n gholfdag deur Candy Cloud gehou om die nodige fondse te bekom. Volgens Brodie se ouers het hulle R10 000 van die gholfdag ontvang, wat gebruik is om mediese rekeninge te betaal. Hulle betaal reeds elke maand R8 000 uit hul sakke vir sy medikasie, dokters en terapeute.
Diegene wat ‘n gewillig is om geld te skenk sodat die nodige toestel gekoop kan word en die seuntjie ‘n geleentheid te gee om ‘n belangrike mylpaal te bereik, word versoek om asseblief vir Louise by 084 457 7050 te skakel.




