Roodies se gholfdag weereens ‘n reuse sukses
'n Deel van die dag se opbrengs sal aan 'n behoeftige skool geskenk word
Laerskool Roodekrans se jaarlikse gholfdag, wat op 17 Oktober by die Krugersdorp Gholfbaan gehou is, was weereens ‘n reuse sukses.

Hoewel dit in die middel van ‘n hittegolf plaasgevind het, het dit nie die 172 spelers afgeskrik nie. Hulle het in ‘n feestelike luim opgedaag, en kuier-kuier van putjie tot putjie gespeel, waar hulle darem ietsie vir die honger en ‘n koue lafenis of twee kon kry om die ergste hitte hok te slaan.
Kyk hier:
Die meeste van die spelers het vir die pret gespeel, maar daar was ook die ernstiger spelers wat die uitdagende baan met oorgawe aangepak het.
Johan Smit van Engen Ouklip, wat vir die 21ste agtereenvolgende jaar die hoofborg was, het self die dag op ‘n hoogtepunt afgesluit toe sy vierbal met een van die toppryse weggestap het. Daar is ook heelwat ander pryse uitgedeel, en elke speler het ‘n geskenksakkie met heerlike bederfprodukte ontvang.

Tydens die prysuitdeling het Deon Rousseau, Laerskool Roodekrans se skoolhoof, ook bekend gemaak dat ‘n deel van die opbrengs van die dag aan ‘n behoeftige skool geskenk gaan word, en het gesê, “Om terug te gee aan die gemeenskap is deel van die etos en waardes van ons skool”.
Hy het die verrigtinge afgesluit deur elke borg en speler wat die dag se sukses moontlik gemaak het, te bedank, en het gesê, “Volgende jaar maak ons weer so. Maak ‘n merkie op jou Oktober 2020-kalender en hou Laerskool Roodekrans se sosialemediablaaie dop!
Kliek hier vir meer foto’s van die dag.















