Florrie-skut palm medaljes by kampioenskappe in
Leerder ontvang weereens haar SAARA-kleure en stap weg as die wenner van die kampioenskappe
Caitlin Oelofse, ‘n Graad 12-leerder van Hoërskool Florida, het op 27 en 28 September 2019 aan die South African Air Rifle Federation- (SAARA-) kampioenskappe in Kaapstad deelgeneem.
Sy het tydens die kampioenskappe ’n telling van 605.7 geskiet, en verower ‘n gouemedalje in die 10M-Olimpiese o.20-vroueafdeling. Die 10M-Olimpiese afdeling is ‘n International Shooting Sport Federation- (ISSF-) afdeling waar skuts oor ’n afstand van 10 meter, 60 skote staande binne 75 minute skiet. Hiermee het sy vir die deelname aan die vrouefinaal gekwalifiseer, waar die top agt skuts in die land meeding vir die titel van 10M Olimpiese Vrouekampioen,.
Caitlin se span het ‘n gouemedalje vir die 10M-Olimpies en 3P-posisie verower, en sy het gekwalifiseer om haar SAARA-kleure te ontvang. Sy is aan die einde van die kampioenskappe ook as die SAARA 10M-Olimpiese Vrouekampioen aangewys.




