Roodie-krieket as aandreekskampioene gekroon
Dit is die eerste keer dat Laerskool Roodekrans aan die Laerskool Fairland Aandreeks deelgeneem het
Laerskool Roodekrans se eerstekrieketspan het baie goed gevaar in die Laerskool Fairland Aandreeks. Dit is die eerste keer dat hulle aan dié reeks deelgeneem het.
Hulle is boonop op 28 Augustus as dié reeks se kampioene gekroon.
In hulle opmars na die finaal het hulle met die spanne van Laerskool Fontainbleau, Laerskool Helderkruin en Laerskool Orion klaargespeel.
In die halfeindrondte het hulle teen Trinityhouse Randpark Ridge te staan gekom. Jean Minnaar en Henricus Meyer het albei ‘n 50-tal aangeteken, wat aan hulle die oorwinning besorg het,
In die finaal teen Laerskool Fairland het Henricus se 50-tal tesame met kaptein Emile Odendaal se 97 (nie uit nie) ‘n oorwinning van 52 lopies verseker.
Henricus het in vyf wedstryde 309 lopies aangeteken, en is ook nie een keer uitgehaal nie. Hy is tydens die prysuitdeling met die trofee vir die Beste Kolwer van die Toernooi beloon.




