Koerant gee daai warm gevoel
Die Ruimsig-gemeente het onlangs aan die Tower of Life-skuiling 80 handgemaakte slaapsakke oorhandig. Dié unieke slaapsakke is van plastiek en koerantpapier gemaak.
Die Ruimsig Gemeente het onlangs bewys dat die koerant nie net vir stories lees en vensters was is nie, maar dat die behoeftigstes in ons gemeenskap ook daarby kan baat.
Die gemeente het 80 slaapsakke uit koerante gemaak om vir die mans te gee wat by Tower of Life-skuiling in die Krugersdorp-middedorp slaap.
“Met ons Junie/ Julie-reeks wou ons ‘n bietjie buite die boks dink,” het Lizette Grobbelaar, die gemeentebestuurder verduidelik.

Sy het vertel dat hul gemeente ‘n vierweek-vakansiereeks gedurende die Junie-skoolvakansie aangebied het. Die reeks is genoem ‘Kerk buite die boks’ en die doel was om die idee van kerk uiteen te sit en buite die boks daarna te begin kyk.
Om hierdie idee oor te dra het hulle vier dienste gehad. Die eerste diens het gegaan oor jou gebedslewe, en gemeentelede het aan interaktiewe gebedsoefeninge deelgeneem.
Die tweede diens het die titel ‘Gemeenskap’ gehad, en die gemeentelede het saam pannekoek geëet en speletjies gespeel terwyl hulle mekaar leer ken het.
Dit was tydens die derde diens getiteld ‘Diensbaarheid’ dat hulle die slaapsakke gemaak het. Lizette het vertel dat hulle die idee op die BetterSA-webtuiste gekry het en die sakke toe aangekoop het.
As deel van die Caxton Cares-inisiatief het Caxton Joburg West, waar die News gebaseer is, vir hulle 9 500 velle koerantpapier geskenk, wat toe gebruik is om die slaapsakke te maak.
Die slaapsak bestaan uit twee plastieksakke waarvan die binneste een kleiner is as die buitenste een. Die gedeelte tussen die sakke word dan opgevul met koerantpapier wat dit teen die koue isoleer. Dit klink wel makliker as wat dit is om te maak.
Die gemeente het altesaam 80 slaapsakke gemaak, en Lizette het vertel dat dit nagenoeg 15 minute neem om ‘n slaapsak te maak – as jy eers weet hoe om dit te doen. Sowat 160 mense het die oggend saam gewerk en sommiges het die laaste paar sakke by die huis klaargemaak.
Op 7 Julie, tydens die Feesvierdiens, het hulle hierdie slaapsakke aan die Tower of Life-skuiling oorhandig. Haweloses wat soms buite in die koue winterweer moet slaap, kan die slaapsakke gebruik om hulle teen die koue te beskerm.
Daarna het almal saam gesing om die Here te loof en hul ervarings oor die vier dienste met die res van die gemeente gedeel.




