Local sportSport

Ruiter-stoeiers blink uit by Afrika-spele

Machiel kwalifiseer ook vir deelname aan die Wêreldkampioenskappe

 

Drie stoeiers van Ruiter Stoeiklub het aan die afgelope Afrika-spele deelgeneem en baie goeie prestasies behaal.

Machiel Grobler het ‘n gouemedalje verower, terwyl sy spanmaats Riehan Botha en Dean van Zyl onderskeidelik ‘n tweede en vierde plek behaal het.

Met hierdie prestasie het Machiel vir deelname aan die Wêreld Junior Kampioenskappe gekwalifiseer wat in Estonië gehou gaan word.

Susan Grobler, Machiel se ma, het verduidelik dat hy begin stoei het toe hy maar net vyf jaar oud was. “Alhoewel hy mal oor die sport was, het hy eers werklik in 2014 begin presteer. Hy het in die afgelope vyf jaar twee goue-, ses silwer- en een bronsmedalje verower. Hy het ook in 2017 in Amerika aan hul stoeikompetisies deelgeneem.”

Sy prestasies wat hy al behaal het, sluit in:

• 2014 MSV Ope Kampioenskappe Middelburg – Silwer

• 2014 Limpopo Ope – Silwer

• 2015 SA Jeug- en Junior Kampioenskappe – Silwer

• 2016 SA Jeug- en Junior Kampioenskappe – Silwer

• 2016 Afrika-spele Algeria – vierde plek

• 2017 SA Kadet, Junior en Senior Proewe – Grieks-Romeins – Goud; Vrystyl – Silwer

• 2018 SAWF Presidents en Veteran Championships – Silwer

• 2018 Africa Games Nigeria – Brons

• 2019 SA Proewe Secunda – Goud

• 2019 Africa Games Tunisia – Goud

Sy het bygevoeg dat die feit dat hy gekies is om aan die Wêreld Junior Kampioenskappe te gaan deelneem ‘n beloning is vir die harde werk en toewyding wat hy die afgelope jare ingesit het, en het gesê, “Ons is baie trots op Machiel en glo dat hierdie ‘n eenmaal in ‘n leeftyd geleentheid is, wat ons bitter graag vir hom wil laat gebeur. Maar, soos almal maar weet, is dit finansieel nie altyd moontlik nie.”

Vir Machiel is sy insluiting in die Suid-Afrikaanse span definitief ‘n hoogtepunt, en hy het verduidelik, “Dit is tog elke sportman se droom om sy land oorsee te verteenwoordig. Ek het baie hard gewerk en baie opofferings gemaak, maar sonder die hulp van ons Hemelse Vader sou ek nie so ver gekom het nie.”

Hy het bygevoeg dat hy vreeslik graag aan die kampioenskappe wil deelneem omdat hy glo dat dit ‘n gulde geleentheid vir hom is om sy vernuf teen van die beste stoeiers in die wêreld te toets.

“As daar dalk iemand is wat ons kan help om Machiel se droom deur middel van ‘n donasie of borgskap te bewaarheid, kan hulle my kontak by 083 258 4751 of sgrobler@kansaiplascon.co.za,” het Susan afgesluit.

Related Articles

Back to top button