
In antwoord op die berig in die Record van 3 Mei, Kyalami race track moves to Nassau Street, wil ek net die volgende sê.
Ek stem volmondig saam met die klaer. Nassaustraat word deur gewetenlose jaagduiwels misbruik om hul voertuie uit te toets. Die voertuie word tot die uiterste toe gedruk om te bepaal hoe vinnig die goed kan jaag. Dit is ook nie iets nuuts nie want dit gebeur al vir baie jare.
Ek weet, want ek woon al langer as 40 jaar in Nassaustraat. Soms jaag hulle eers af om dan net in Trezona om te vlieg en weer terug te jaag.
Daar is twee skole wat hierdeur geraak word, naamlik Hoërskool Bastion en Princess Primary. Albei hierdie skole maak gebruik van Nassaustraat sowel as Trezonalaan en Fiskaalstraat. Ek sien geen rede waarom daar nie spoedbulte in genoemde strate mag wees nie. Dit sal hierdie soort optrede tot ‘n einde bring.
Spoedbeheer deur die verkeersafdeling sal ook help. Ons merk dat motoriste versigtig bestuur in CR Swartweg aangesien daar spoedlokvalle is.
As inwoners van Nassaustraat vra ons dat die Johannesburgse Padagentskap en die betrokke raadslid vir Wyk 71 baie dringend aandag aan hierdie saak sal gee.



