NewsSchools

Bok en Bastion – ‘n lekker braaidag

Toe Bok van Blerk die mikrofoon in hand het was daar nie 'n persoon op die veld wat nie gestaan en saam gesing het nie. Dié braaidag was groot pret.

Met koelbokse, kampstoele en ‘n braaier in hul hande het families en vriende oor die Hoërskool Bastion rugbyveld aangestap gekom.

‘n Paar het komberse uitgesprei terwyl ander die vuur aan die gang gekry het. Die koel laatmiddaglug is gou gevul met ligte rook en die reuk van braaivleis. Hoërskool Bastion se Braaidag was aan die gang!

Dustin, Mason en Letitia Hawla spandeer die Bastion Braaidag saam as gesin. Foto: Jaco Human.

Die dag was beslis ‘n reuse sukses, en die veld was volgepak met gelukkige families en vriende. ‘n Deurlopende gegons soos die mense gesels en gelag het is oral gehoor. Die geraas het verdriedubbel toe Bok van Blerk die verhoog betree het.

Vir baie was dit presies waarna hulle nog heelweek uitgesien het. Bok het die skare se volle aandag onmiddellik vasgevang, en dié lot was nie bang om hul stemme te laat hoor nie. Daar is woordeliks met elke lied saamgesing en niemand het bly sit nie.

Tinus Theresa van Straaten sit gemaklik op ‘n kombers op die Bastion-rugbyveld. Foto: Jaco Human.

Die doel van die Braaidag was tweeledig; dit was ‘n lekker geleentheid vir ouers en leerlinge om bymekaar te kom, gesellig te verkeer en die groot gees saam met ‘n paar honderd ander Bok van Blerk-aanhangers te geniet.

Die opbrengs van die kaartjieverkope het aan die skool gegaan as deel van hul fondsinsameling. Gemeet aan die aantal mense wat by die geleentheid was, kan mens sê dat dit ‘n groot sukses was.

Baie hoop vir seker dat hulle nie te lank sal hoef te wag om weer so ‘n geleentheid by te woon nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button