Die voorsitter van die Horison Blockwatch (HBW) is op Saterdag, 27 April oorlede.
Die nuus is op 28 April op dié groep se Facebook-blad soos volg bekend gemaak: “More HBW-lede. Dit is met groot hartseer dat ons julle van ons voorsitter, Steve du Toit, se afsterwe gisteraand inlig. Ons hou die familie in ons gedagtes en gebede gedurende hierdie moeilike tyd.”
HBW-lede het met groot hartseer hierop gereageer, en die boodskappe van medelye het op sosiale media ingestroom.

Yolandie Bawden van die HBW het bevestig dat hulle op Vrydagaand, 3 Mei, ‘n laaste patrollie ter ere van Steve gaan ry. “Ons sal om 7nm by die Suzuki-handelaar op die hoek van Ontdekkesweg en Cutenstraat ontmoet. Ons sal van daar af na die Du Toits se woning ry. Dié wat blomme wil saambring om voor die woning te plaas, is welkom om so te maak,” het sy gesê.
Steve se roudiens sal om 11vm op 6 Mei by die NG Kerk Horison, op die hoek van Moutonweg en Andries de Bruynstraat in Horison plaasvind.




