LettersOpinion

Daar is hoop!

Niemand se hoop is dieselfde nie

Die Afrikaanse sanger, Jo Black sing dat hoop ‘n stem is wat sê, “As jy moeg is, sal ek jou dra”.

En, met die verkiesing so kort op ons drumpel loop ons almal met hoop in ons harte rond. Party hoop dat die regte party die verkiesing sal wen. Ander hoop vir meer werksgeleenthede, beter dienslewering en huise. Meeste van ons hoop dat die ekonomie ons genadig sal wees.

Niemand se hoop in hul harte is dieselfde nie.

Maar, kom ek vertel ‘n pragtige storie van hoop en genade. Jare gelede was daar ‘n familie wat baie heg was. Hulle het altyd saam gekuier en alles saam gedoen – tot die dag toe iets gebeur het en hul uitmekaar gedryf het. Dit was so erg dat hulle by mekaar in die winkel sou verbyloop en net wegkyk sonder om te groet.

Tyd het verloop en ja, daar was ook baie gebede. Vandag kuier die familie een keer per maand saam. Die ongesproke familiereël is dat jy laat mag wees vir die kuier maar nie mag wegbly nie. Tydens elke byeenkoms kuier hulle asof hulle mekaar jare laas gesien het!

Die vraag is, wat het intussen verander? Die antwoord: Hoop. Die familie het die ou koeie in die verlede gelos, hul harte weer na mekaar gedraai en hul hande na mekaar uitgesteek om verenig te word.

Ek sien nou die dag hoe mense oor kleurgrense heen mekaar help, uit hul eie en sonder om iets daarvoor te vra. Ja, daar is hoop!

So voor die verkiesing, kom ons hou die ou koeie in hul grafte. Moet hulle nie weer uithaal en afstof nie. Hou die verlede in die verlede. Kom ons draai eerder terug na die mense om ons en steek ons hande uit om mekaar te help. Laat die vrede weer by ons uitkom, soos Jo Black dit in sy lied sing.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button