Florida-seun droom van wêreldroem
Hy is as een van die Top 40-atlete by die Gauteng Kampioenskappe aangewys
Keanu Nel se grootste droom is om eendag die groen en goud oor sy kop te trek en ‘n wêreldkampioen in gewigstoot en diskus te word.
Al is hy maar net 11 jaar oud, is hy reeds hard aan die werk om hierdie droom te bewaarheid. “Keanu het verlede jaar vir deelname aan die Gauteng Kampioenskappe gekwalifiseer, maar ongelukkig uitgeval. Hy het nie toegelaat dat dit hom onderkry nie, en het net harder gewerk. Hierdie jaar het hy weer gekwalifiseer en kon met ‘n derde plek spog,” het Junene Nel, sy ma, vertel.
Hy het vanjaar aan verskeie byeenkomste deelgeneem, insluitend die interhuis, interlaer, Roodepoort- en D12-kampioenskappe, en ‘n eerste plek by elkeen behaal. “By die interlaer was sy afstand amper vyf meter verder as dié van die atleet wat die tweede plek behaal het. Hy was een van slegs vyf Laerskool Florida-atlete wat vir die Gauteng Kampioenskappe gekwalifiseer het,” het Junene gesê.
Keanu het nie net ‘n derde plek by die Gauteng Kampioenskappe behaal nie, maar is as een van die Top 40-atlete aangewys en die agtste beste atleet vir die dag met ‘n totaal van 922 punte in sy item.
“Hy was deel van die Gauteng-span wat in Maart aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deelgeneem het, en hier het hy ‘n sesde plek behaal,” het sy gesê.
Sy het bygevoeg dat hy die afgelope twee jaar deel is van die Pierre Blignaut Gewigstoot en Diskus Akademie, en het gesê, “Hy gaan later vanjaar aan die Klubkampioenskappe deelneem, waar hy die Universiteit van Johannesburg gaan verteenwoordig. Sou hy sy afstande in die onderskeie items verbeter of ewenaar, sal hy aan die Gautengse en Suid-Afrikaanse Klubkampioenskappe kan deelneem.”
Keanu is nie net ‘n kampioenatleet nie, hy presteer ook in rugby en krieket en behaal ook uitstekende prestasies op akademiese en kultuurgebied. “Hy is as die o.10 Spanspeler van die Jaar by die UJ Rugbyklub aangewys, sy span is as die Beste Juniorspan van die Jaar aangewys en hy was verlede jaar deel van sy graad se akademiese Top 20. Hy het Suid-Afrika by die Abacus Maths Wêreldkampioenskappe verteenwoordig waar hy met ‘n tweede plek weggestap het. Hiervoor het hy erekleure vir kultuur ontvang,” het Junene gesê.
Junene het vertel dat Keanu toegewyd is en elke dag van die week hard oefen, “Hy offer baie van sy tyd op en wanneer ander kinders voor die televisie sit of speletjies speel, is hy besig om gewigstoot en diskus te oefen. Hy is altyd gereed om te gaan oefen, en kla nooit nie.”
Maar dit is nie vir Keanu ‘n straf nie. “Sukses is harde werk en jy moet bereid wees om hard te werk en baie opofferings te maak. Niks val sommer net in jou skoot nie,” het hy gesê.”




