Local newsNewsUpdate

Florida-meisie veg terug na terugslag

Sy was 33 dae lank in die hospitaal

 

Net toe die 18-jarige Clarece Scholtz gedink het sy is op pad om leukemie te oorwin, het sy ‘n groot terugslag beleef.

“Ek het sedert Desember verlede jaar ‘n bietjie olik begin voel en gesukkel met hoofpyn, koors en gewrigpyn. Op 16 Januarie het ek my roetine-ondersoek gehad, en was baie verbaas toe die dokter my dadelik laat opneem het,” het sy vertel.

Lees meer hier:

https://roodepoortrecord.co.za/2018/07/31/ek-het-10-jaar-ouer-geword-in-net-een-weekflorida-meisie-ontvang-diagnose-wat-haar-lewe-verander-web/

Hulle is toe die skoknuus meegedeel, en Fransie Scholtz, Clarece se ma, het gesê, “Die dokter het ons ingelig dat die leukemie weer in Clarece se bloed gekry is maar dat dit hierdie keer baie aggressiewer as die vorige keer was. Wat hom ook bekommer het, was die feit dat dit ook besig was om in haar rugstring op te beweeg na haar brein toe.”

“Die dokter het vir ons gesê dat hy ‘n ander tipe chemoterapie gaan probeer maar as dit nie werk nie, is daar niks anders wat hy vir my kan doen nie. Ek was vir 33 dae in isolasie waar ek elke dag die nuwe behandeling ontvang het,” het Clarece gesê.

En, alhoewel die nuwe medikasie hul werk gedoen het, was haar verblyf in die hospitaal nie sonder insidente nie. “Behalwe vir die feit dat my liggaam nie vinnig genoeg witbloedselle vervaardig het nie, het my blindederm ook besluit dat dit die perfekte tyd was om uit te kom. Die operasie op sigself was baie riskant omdat my plaatjietelling vreeslik laag was. Wat ‘n roetine-operasie moes wees, het amper vier uur geduur.”

Lees meer hier:

https://roodepoortrecord.co.za/2018/09/12/ek-sal-nie-toelaat-dat-kanker-my-wen-nieflorida-meisie-bly-veg-teen-leukemie-web/

Die dokter het hulle ook meegedeel dat Clarece nooit heeltemal gesond sal word nie, en vir die res van haar lewe behandeling sal moet kry. “Hy het vir ons verduidelik dat die tipe kanker wat ek het – akute limfoblastiese leukemie – veroorsaak is deur ‘n genetiese mutasie. Ek sal nooit in remissie gaan nie, en ook vir die res van my lewe chemo moet ondergaan. ‘n Beenmurgoorplanting is ook glad nie meer ‘n opsie nie, aangesien hulle iemand sal moet kry wat presies dieselfde mutasie as ek het,” het sy verduidelik.

Maar, wat beteken dit vir haar toekoms? “Sy is nou besig om vir haar matriekeindeksamen voor te berei voordat sy daaraan kan dink om verder te studeer. Omdat sy ook elke 25 dae vir ten minste ‘n week in die hospitaal sal wees, gaan dit ook nie vir haar maklik wees om ‘n werk te kry nie,” het Fransie gesê.

Clarece se enigste droom is om verder te studeer maar met die siekte en behandeling is hul finansies ook maar skraps. “Hierdie laaste ses tot nege maande was vir my en vir ons familie ‘n emosionele wipplank. Hoewel my toekomsplanne nou met minstens ‘n jaar teruggeskuif is, is ek steeds vasbeslote om nie toe te laat dat iets in my pad staan om die nodige kwalifikasies vir my droomloopbaan te kry nie,” het sy gesê.

Lees meer hier:

https://roodepoortrecord.co.za/2018/11/12/daar-is-goeie-dae-en-slegte-dae-maar-ek-gaan-aanhou-vegflorida-meisie-veg-moedig-voort-teen-leukemie-web/

Fransie het afgesluit deur weereens elkeen wat hulle bygestaan het te bedank, en het gesê, “Ons vat elke dag soos hy kom, en probeer ook dit wat ons opsy gesit het om eendag te doen, nou te doen. Enige finansiële hulp sal ook opreg waardeer word. Ons verkoop pragtige kalenders teen R150 elk, en die gelde sal vir Clarece se behandeling aangewend word.”

Vir meer inligting oor hoe Clarece gehelp kan word, stuur ‘n epos na die Record by adeleb@caxton.co.za. Alle navrae sal aan Fransie gestuur word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button