Local sportSport

Horison-meisie droom van Olimpiese deelname

“Hierdie totaal kan nog groei, aangesien die klubkompetisies binnekort begin”.

 

Die 13-jarige Zanel van Eeden se droom is om eendag haar land by die Olimpiese Spele te verteenwoordig. Sy is reeds goed op dreef om dit te bewaarheid.

Sy het ‘n ongelooflike jaar op die atletiekveld beleef, en het 17 medaljes by die onderskeie skooltoernooie ingepalm. Haar pa, Steven het gesê, “Hierdie totaal kan nog groei, aangesien die klubkompetisies binnekort begin”.

Zanel het aan diskus, gewigstoot en spiesgooi deelgeneem, en het vir deelname aan die interhuis, interlaer, Roodepoort Kampioenskappe, D12-kampioenskappe asook Gauteng Kampioenskappe gekwalifiseer.

“Sy was een van die top meisiesatlete by die interhuis en was een van slegs vyf Laerskool Florida-atlete wat vir deelname aan die Gauteng Kampioenskappe gekwalifiseer het. Haar afstande deur die jaar het haar ook onder die Top 10 in haar ouderdomsgroep geolaas,” het Steve gesê.

Sy gaan later vanjaar aan die Klubkampioenskappe deelneem, waar sy die Universiteit van Johannesburg gaan verteenwoordig. Ter voorbereiding oefen sy by die Pierre Blignaut Gewigstoot en Diskus Akademie. “Sou sy haar afstande in haar onderskeie items verbeter of ewenaar, sal sy aan die Gauteng- en Suid-Afrikaanse Klubkampioenskappe kan deelneem,” het Steve gesê.

Maar, Zanel is nie net ‘n kampioenatleet nie; sy presteer in netbal, hokkie, is ‘n kampioenskopsbokser, en om alles af te rond, behaal sy ook uitstekende prestasies op akademiese en kultuurgebied.

“Atletiek is my passie en ek geniet dit om met ander atlete te kompeteer. Ek is baie bevoorreg om saam met van die beste afrigters in Suid-Afrika te oefen en met hul leiding sal ek beslis my doelwitte kan bereik om eendag my land by die Wêreldkampioenskappe en uiteindelik ook die Olimpiese Spele te verteenwoordig,” het Zanel gesê.

Steven het bygevoeg, “Zanel maak ons as haar ouers ongelooflik trots. Sy is baie toegewyd en oefen elke dag van die week. Sy besef dat haar uiteindelike sukses harde werk, toewyding en baie oefening verg. Sy pluk alreeds die vrugte daarvan.”

Related Articles

Back to top button