Local newsNews

Voetoperasie laat Florida-seun glimlag

'Hy kan nie ophou glimlag nie'

 

“Dit is nou soveel makliker om vir hom skoene te kry, en hy is soveel gelukkiger noudat hy soos ‘n normale 11-jarige ook weer saam met sy maats kan rondhardloop.”

Dit was die woorde van Dalene Swarts, Tytan Swarts se ma, nadat die voetoperasie wat hy op 24 November 2017 ondergaan het, suksesvol was.

“Alhoewel dit ‘n lang en soms moeilike pad was, het ons as gesin saamgestaan en vir Tytan hierdeur gehelp,” het Dalene gesê.

Tytan kon weens verkorte Achilles-senings in albei hakskene nie platvoet loop nie. Hy kon net op sy tone loop, wat nie net veroorsaak het dat hy nie saam met sy maats kon hardloop en speel nie, maar dat sy rug en heupe probleme begin gee het.

Tydens die operasie is die Achilles-senings in beide sy voete verleng, en Dalene het verduidelik, “Sy voete was ses weke lank in gips, en hy moes met krukke en ‘n rolstoel oor die weg kom. Hoewel hy die tyd in die rolstoel geniet het en heelwat toertjies aangeleer het, kon hy nie wag om weer te begin loop nie. Dit was aan die begin vir hom moeilik en sy bene het baie vinnig moeg geword, maar hy het aangehou en deurgedruk. Nadat hy met swemfisioterapie begin het, het hy makliker begin loop. Tytan het binne drie maande sonder enige ondersteuning self begin loop, en sy hersteltydperk met nege maande verkort.”

Dalene het bygevoeg dat Tytan ongelooflik bly was dat hy weer normaal kon loop, “Die eerste ding wat hy gedoen het nadat hy herstel het, was om fiets te ry; iets wat hy elke middag met ‘n groot glimlag op sy gesig gedoen het.”

Sy het gesê dat hy aan die begin ook elke middag na skool opgewonde vir hulle vertel het hoe hy saam met sy maats rondgehardloop het en ‘touchers’ gespeel het.

Tytan het ook alreeds aan rugby, tennis en swem deelgeneem, en sien baie daarna uit om vanjaar krieket te speel.

“Ons is innig dankbaar vir al die hulp wat ons van almal ontvang het, want daarsonder sou ons nie Tytan se droom om weer normaal te kan loop en speel kon bewaarheid nie,” het Dalene afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button