
Nie eers die donker wolke en sporadiese reënbuie kon die entoesiasme van die deelnemers aan die jaarlikse kaskardag by Laerskool Helderkuin demp nie.
Hanli-Mari Olivier, die skool se skakel- en bemarkingsbeampte het gesê, “Ons het hierdie jaar besluit om ons fondsinsamelingsprojek so ‘n bietjie anders te maak, en die tema was Grand Prix – die Kruiner- manier”.

Elke klas moes hul kaskar versier volgens ‘n spesifieke land wat aan die Rugbywêreldbeker gaan deelneem. Die leerders moes ook volgens dié spesifieke land se kleure aantrek.
“Daar is dié dag kaskarwedrenne gehou, en voor elke wedren het leerders die geleentheid gekry om met hul kaskar en kreet, of ‘n dansie, voor die beoordelaars te spog,” het sy gesê.
Deelnemers moes deur sand en modder ry en hul vernuf is deeglik getoets oor die bulte en om die draaie. Al was daar ‘n paar ligte ongelukkies het almal hope pret gehad.

Na die wedrenne kon almal hul honger stil en hul en dors les by die groot verskeidenheid kosstalletjies waar pannekoek, roomys, boereworsrolle en nog vele meer te koop was.
“Die dag was definitief ‘n reuse sukses, en ons bedank graag al ons leerders, ouers, onderwysers en borge wat tot hierdie sukses bygedra het,” het Hanli-Mari afgesluit.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



