Kersliggies bring vreugde vir Witpoortjie-inwoners
‘Die glimagte op die kinders se gesigte maak dit die moeite werd’
Die inwoners van Witpoortjie word uitgenooi om in die betowering wat met die Kersseisoen gepaard gaan, te deel.
Vir die afgelope 14 jaar word Fransien Niemand se huis in Fraserstraat, Witpoortjie, in ‘n behoorlike liggiefees omtower, en sy het verduidelik, “Ek onthou dat my ma altyd ons huis met vreeslik baie verskillende Kersversierings versier het, en ek was mal daaroor! Vir my is Kersfees ook sinoniem met liggies, en dit is een van die hoofredes hoekom ek elke jaar al hierdie liggies opsit.”

Sy het bygevoeg dat sy oorspronklik baie klein begin het, en dat dit elke jaar net meer en meer geword het, “Ek dink ons het maklik al meer as 10 000 liggies wat ons vir die versierings gebruik.”
Fransien het vertel dat al die versierings wat sy in die tuin gebruik, haar eie skeppings is. “Ek koop slegs die stringe liggies, die res maak ek alles self. Ek beplan ‘n hele rukkie voor die tyd presies wat ek in die tuin wil doen, maak dan sketse en daarna maak ek die versierings.”
Sy het gesê dat sy gewoonlik probeer om die liggies al teen 1 Desember gereed te hê, maar party maal laat omstandighede dit nie toe nie. “Ek sit ook nie een liggie aan voordat ek nie die kruis gereed het nie – sodra die kruis se liggies brand, dan volg die res,” het sy gesê.

Die liggies word elke aand (behalwe as dit reën) om ongeveer 6nm aangeskakel en bly brand totdat hulle gaan slaap. “Die lede van die gemeenskap het ons liggies nog altyd net van buite die erf af bewonder, maar vanjaar gaan ons hulle innooi sodat hulle dit van nader kan beskou. Ons deel ook heerlike koekies vir die kinders uit. Ons het besluit om dit so te doen, want ons doen dit tog vir die gemeenskap, en dit is baie lekker om die kinders se gesiggies te sien ophelder,” het Fransien gesê.”
Die groot vraag is natuurlik of al hierdie liggies wat oor die hele Desember flikker, skitter en helder skyn, ‘n groot impak op hul elektrisiteitsrekening het. Fransien het net geglimlag, en geantwoord, “Ons rekening is nie baie hoër nie, want deesdae se liggies is meestal LED’s, wat nie so baie krag trek nie.”

Sy het ook bygevoeg dat sy wél redelik gereeld van die liggies moet vervang, “Sou ek opmerk dat daar van die liggies is wat nie meer werk nie, vervang ek dit gou sodat die mense wat kom kyk, nie teleurgesteld sal wees nie.”
Vir ‘n ware liggiefees (en heerlike koekies!) besoek gerus vir Fransien by Fraserstraat 2, Witpoortjie.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!



