Wilropark-ouma desperaat om haar kleinseun te help
'Ons vra dat die gemeenskap hul harte sal oopmaak en ons sal help'
‘n Desperate ouma van Wilropark het dringend die hulp en ondersteuning van die gemeenskap nodig met haar negejarige kleinseun wat aan Duchenne Spierdistrofie ly.
Roza Langerman het verduidelik, “Ludick Fouché, my kleinseun, is vyf jaar gelede met hierdie siekte gediagnoseer. Die siekte laat die lyer se skeletspiere erg verswak en is ongeneesbaar.”
Sy het bygevoeg dat Ludick in die laaste sewe maande ongelooflik verswak het, en dat hy nou heeltemal van sy rolstoel afhanklik is. “Hy kan nie meer sy bene reguit maak nie omdat die senings verkort het en hy kan glad nie meer staan nie. Sy arms verswak ook al hoe vinniger en hy kan hulle by die dag minder gebruik,” het Roza gesê.
Lees meer:
https://roodepoortrecord.co.za/2018/04/10/negejarige-se-droom-bewaarheid-roodekrans-seun-se-droom-bewaarheid-web/
Sy het vertel dat dit vir haar en Ludick se ma, Anzél Fouché, baie moeilik is om hom te versorg, want hulle kan hom nie optel nie. “Dit is hoekom ons dringend ‘n pasiënthyser benodig. Omdat ons so sukkel om hom op te tel, word sy lyf baie seer en hy kneus ook maklik. Die hyser sal ons byvoorbeeld help om hom van die bed tot in die rolstoel te kry.”
Sy het vertel dat hulle ‘n tweedehandse hyser teen ‘n laer prys kan aanskaf, en het gesê, “Ons het alreeds R2 000 ingesamel, en het nog minstens R6 000 nodig om die hyser te koop”.
Dit is nie die enigste uitdagings wat die gesin het nie. Roza het gesê dat vervoer ook ‘n baie groot probleem is. “Ons het ook ‘n bussie nodig wat ons kan ombou sodat sy rolstoel kan inpas, wat vervoer baie sal vergemaklik. Hy leen tans ‘n rolstoel by die skool, maar iemand moet vir hom die rolstoel stoot omdat sy arms nét te swak is. Dit sal baie makliker – en veiliger – wees as ons ‘n bussie kan kry waar hy met sy elektriese stoel kan in- en uitry.”
Omdat Ludick so lief vir swem is, het hulle ook gevra vir reddingsbaadjies vir hom. “Ons het baie goeie reaksie van die gemeenskap ontvang, en het heelwat donasies vir hom gekry. Hy kan nou ook by die skool saam met die maatjies swem, en hoef nie meer net op die trappie te sit en kyk nie. Ludick is mal oor die water, want daar kan hy darem nog beweeg, en ons kan ook die geleentheid benut om sy bene ‘n bietjie te oefen en te strek,” het Roza gesê.
“Dit sal vir ons geweldig baie beteken as die gemeenskap hul harte oopmaak en ons kan help met ‘n donasie of dalk ‘n voertuig om Ludick se lewe ‘n klein bietjie makliker te maak. As iemand ons dalk kan help met fondsinsamelingsprojekte sal ons dit waardeer, aangesien ons nie ‘n idee het hoe, of waar, om te begin nie,” het Roza afgesluit.”
Vir meer inligting, besoek Ludick se Facebook-blad (Ludick Fouche – His Journey with Duchenne).
Donasies kan ook gemaak word op sy BackaBuddy-blad
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



