Elke operasie nóg ‘n treetjie nader aan herstel vir Horison se Nathan
Die volgende operasie is vir Februarie aanstaande jaar geskeduleer
Die tweejarige Nathan Ungerer is nou nóg ‘n stappie nader daaraan om sy eerste paar skoene aan te trek.
Nathan is net na geboorte met Milroy se Siekte, wat ook as limfedeem bekend staan, gediagnoseer. Sy ouma, Selona van Aswegen het dit so verduidelik. “Dit is ‘n oorerflike siekte wat veroorsaak dat een ledemaat twee keer vinniger as die ander een groei. In Nathan se geval het dit sy linkervoet aangetas, en die dokters het gesê dat die swelling veroorsaak is deur limf wat uit die limfvate lek en dan in die limfselle en ruimte rondom die selle ophoop.”
Lees ook:
https://roodepoortrecord.co.za/2018/03/05/eerste-stappie-op-herstelpad-suksesvolnathan-gee-eerste-tree-op-lang-herstelpad-web/
Hy het op 12 November ‘n derde operasie ondergaan. “Die operasie was ‘n sukses en die dokter, James van der Merwe, is baie tevrede. Tydens die operasie is ‘n groot gedeelte van die gewas verwyder, maar Nathan sal in Februarie aanstaande jaar nóg ‘n operasie moet ondergaan,” het Selona gesê.

Die dokter het bevestig dat die gewas nog nie weer gegroei het na die laaste operasie in Julie nie, wat ‘n baie goeie teken is. Tydens die eerste twee operasies is ‘n groot gedeelte van die gewas weggesny en al Nathan se tone is geamputeer. “Aan die einde van die behandeling sal sy voet soos ‘n boksie lyk,” het Selona gesê.
Selona het afgesluit deur almal vir hulle gebede, liefde, omgee en ondersteuning te bedank.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



