Wiskunde-blitsbrein ryg die toekennings in
Hy het vir deelname aan internasionale kompetisie gekwalifiseer
Die agtjarige Arno de Beer skrik nie vir wiskunde nie. Hy ken alreeds sy maaltafels tot by 17 en kan ook hoofrekene met vyf syfers doen – sonder om ‘n sakrekenaar te gebruik.
Hy het van ‘n vroeë ouderdom af gewys dat hy ‘n goeie verhouding met syfers het, en op vierjarige ouderdom het sy ouers hom by Abacus Maths in Horison ingeskryf. “Arno was nog altyd ‘n baie besige outjie, en dit was nie altyd maklik om hom besig – en geïnteresseerd – te hou nie. Hy was by Laerskool Gustav Preller in Graad R toe ons die Abcus Maths-advertensie gesien het en besluit het om hom in te skryf. Ons was nog nooit spyt nie,” het sy ma, Annaline de Beer verduidelik.
Sy het bygevoeg dat Arno se onderwyser hom toelaat om sy Abacus Wiskunde-somme in die klas te doen. “Hy sê dat hy verveeld is in die klas en om hom besig te hou, gee die onderwyser ook al vir hom Graad 4-wiskunde om te doen,” het Annaline gesê.
Arno het onlangs tydens die Gauteng Kampioenskappe vir deelname aan die Global Association of Japanese Soroban Mental Arithmetic- (GAJSMA-) kompetisie gekwalifiseer wat later vanjaar in Suid-Afrika plaasvind. Hy het by verlede jaar se kompetisie in Thailand ‘n tweede plek behaal.
Annaline het vertel dat die wiskundeklasse hom definitief ook baie met sy ander skoolvakke help en veral sy geheue verbeter. Sy het gesê, “Ons oefen elke dag minstens twee uur lank en dit is baie harde werk. Maar, die feit dat hy weet hy kan kompeteer en goed vaar is sy motivering. Glo my, ons het ook maar moeilike dae wanneer hy nie wil oefen nie. Ons los hom dan en probeer liewer die volgende dag weer.
”Sy instrukteur, Sharné Bressler, het gesê dat Arno ‘n baie goeie student is, en nie bang is om te werk nie. “Hy wil altyd ekstra huiswerk hê om te doen, en kla nooit. Hy het sedert verlede jaar alreeds drie vlakke gevorder, wat ongelooflik goed is vir ‘n kind van sy ouderdom,” het sy trots vertel.
Sy het bygevoeg dat Arno verskeie toekennings ontvang het, wat die volgende insluit:
• Abacus Top Achiever 2018
• Eerste plek vir Junior Dictation (Graad 1–3)
• Abacus Maths Attitude is Everything Award
Sharné het ook beklemtoon dat hulle nie nét op prestasies konsentreer nie, en het gesê, “Ons wil regtig kinders help om ‘n goeie fondasie vir wiskunde te bou en om al die boublokkies in plek te sit, sodat hulle goed in Wiskunde kan presteer.”
Arno se rolmodel is medestudent, JC Roux, en hy het vertel dat hy vreeslik graag nie net so goed soos JC wil wees nie, maar beter. “En, as hy aanhou om so hard te werk, sal hy dit beslis kan doen, “ het Sharné afgesluit.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



