Editor's choiceSchool sportSport

Florida-rugbyspeler gekies om in Italië te speel

‘Dit is ‘n eenmaal in ‘n leeftyd geleentheid’

 

“Hy is sy mamma se superheld, en ek weet sommer dat hy eendag vir die Springbokke gaan uitdraf.

“Tatyn se harde werk word nou beloon, en ons is geweldig trots op hom,” het Stephne Gouws, die 11-jarige Tatyn se ma gesê.

Tatyn het onlangs saam met Laerskool Florida se o.11-rugbyspan aan die Rugby Ramme-toernooi deelgeneem. Tydens die halfeindrondte, wat by Grey College in Bloemfontein plaasgevind het, het ‘n paneel internasionale keurders spelers geïdentifiseer om aan ‘n toernooi in Italië te gaan deelneem.

Tatyn Gouws (met bal in die hand) in aksie op die rugbyveld. Foto’s: Verskaf

“Die keurders het spelers op grond van hul vertoning tydens die toernooi gekies om as deel van die Rugby Ramme o.11-uitnodigingspan van 10 tot 19 Desember in Italië te toer,” het Stephne vertel.

Sy het bygevoeg dat dit ‘n eenmaal in ‘n leeftyd geleentheid vir Tatyn is, en dat dit vir hulle ‘n groot voorreg sal wees om te kan help om sy droom te bewaarheid”

“Ek kan sien dat my kind se hart uit sy bors wil bars van trots, en ons as ouers is nét so trots. Die enigste struikelblok is dat dit ongeveer R35 000 gaan kos. Ek het alreeds maatskappye begin nader vir donasies of borgskappe,” het sy gesê.

Tatyn speel rugby sedert hy vyf jaar oud is en is tans lid van Laerskool Florida se o.11-span. Hy is ook lid van die Universiteit van Johannesburg (UJ) Rugbyklub se o.11-span. “Hy word na byna elke wedstryd as die man van die wedstryd aangewys, en na afloop van die rugbytoer by Laerskool Bekker is hy as die beste o.11-speler van die toernooi aangewys. Verlede jaar was hy UJ Rugbyklub se beste speler van die jaar.

Tatyn se rugbyheld is die veelsydige Faf de Klerk. “Ek wil ook eendag so goeie skrumskakel soos hy wees.”

Hy het bygevoeg dat dit vir hom vreeslik baie sal beteken as hy wél die toernooi na Italië kan meemaak. “Ek speel rugby vandat ek kan onthou, en dit was nog altyd my groot droom om oorsee te gaan rugby speel,” het hy gesê”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button